Wat van Wêreldrugby se spelerwelvaart?

Dis dalk nie die enigste rede nie, maar oortree die Cheetahs nie al hoe meer in die Pro14-rugbyeeks omdat hulle oorspeel en tam is nie?

Gaan praat maar met enige rugbyspeler: wanneer die lyf moeg raak, volg die kop en dan word daar onbewustelik oortree.

Die Cheetahs het Saterdag in Port Elizabeth die tweede keer in twee wedstryde twee geelkaarte afgestaan.

Trouens, hulle het drie geelkaarte teen die Kings afgestaan.

In verlede jaar se Superreeks is daar in 15 wedstryde net agt afgestaan, nou is daar binne twee wedstryde vyf afgestaan. Dieselfde spelers, dieselfde tegniek?

Hulle kon darem Saterdag in Port Elizabeth die knoop teen die Southern Kings deurhak, maar die vorige week in Treviso het hulle die duur prys teen Benetton betaal en is hulle geklop.

Dit sal interessant wees om te sien in hoeveel wedstryde van die Cheetahs se spelers die afgelope 11 maande gespeel het. Dit het vroeg verlede jaar met opwarmwedstryde vir die Superreeks begin, en dit is gevolg deur 15 wedstryde in dié reeks (Clayton Blommetjies het byvoorbeeld in al 15 gespeel). Toe volg 12 wedstryde in die Curriebekerreeks waar die Vrystaters probeer het om vir die halfeindrondes te kwalifiseer.

Maar tussendeur moes die Cheetahs reeds in die Pro14-reeks speel, en soms is daar oor en weer van spelers in die twee kompetisies gebruik gemaak.

Daar is reeds verskeie kere na Skotland, Ierland, Wallis en Italië gereis en soms het dit twee tot drie dae vir die hele span geneem om by die eindbestemming uit te kom.

Boonop is hulle met yskoue weer, reën, hael en sneeuvlokkies begroet terwyl hulle in Vrystaatse somerweer voorberei het.

Dit gaan ook nie gou ophou nie, want die Pro14-reeks is skaars verby die halfpadmerk en eindig eers op 26 Mei met die eindstryd in Dublin.

Die Cheetahs (en Kings) moet in die volgende drie maande nog nege wedstryde in die ligafase speel en dan volg die moontlike uitspeelrondes (darem nie vir die Kings nie).

Kan iemand die spelers kwalik neem as hulle vuisvoos is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Maar onthou dat sodra die Pro 14 reeks verby is, gaan hulle ‘n paar maande afkry voor die reeks weer begin aangesien hulle nie soos laasjaar eers Superrugby moet speel nie.

Jack Russl ·

En die oorsese spelers berei voor in yskoue weer en moet dan in die warm somer hier kom speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.