Wat wag op die Springbokke in Auckland?

imagesCAPI5OTV

Heyneke Meyer het na die Springbokke se pragvertoning teen die Wallabies verlede Saterdag in die Suncorpstadion in Brisbane baie te sê gehad oor sy span.

Hy het die Bokke geloof vir die karakter wat hulle getoon het, vir die wen wat die rekordboeke herskryf het en bygevoeg “die span sal nou met hul voete plat op die aarde voorberei vir die volgende wedstryd..”

Dit is Heyneke Meyer, die soort afrigter en die mens wat ons sedert sy Blou Bul-dae leer ken het: Selfversekerd  sonder arrogansie, nederig sonder om te kruip.

Wat kan hierdie Springbokspan eerskomende Saterdag van die All Blacks verwag op Eden Park in Auckland?

Een ding is seker, die All Blacks het kennis geneem van ‘n paar dinge wat met hierdie Bokspan gebeur het. Eerstens, dat hierdie span in homself glo en dat die ou holruggeryde uitdrukking “hulle speel vir mekaar en die trui” lewe gekry het.

Tweedens het dit gebeur dat die span hulle aan hul tokrieme opgetrek het om van ‘n getjommel in Argentinië binne ‘n week tot vlymskerp te groei.

Derdens het hulle die Aussies gereduseer tot ‘n gewone span met buitengewone spelers wat in hul agterplaas van hul voete af gespeel is.

Vierdens het hierdie span bewys dat rugbystatistieke nie lêplek in jou kop moet kry nie en dat dit jou allermins moet weerhou van die potensiaal om van lou tot vuurwarm te groei.

Laastens glo ons dat die span die enigste intenasionale span is wat die magtige All Blacks op alle vlakke van hul spel kan toets; voor- en agterlangs.

As Meyer hom by die wenspan hou vir Saterdag (en die waarskynlikheid is groot dat hy sal) het die Bokke die geleentheid om hulle teen die nommer een in die wêreld te toets, ‘n jaar of wat voor die IRB se Wêreldbekertoernooi aanbreek.

Miskien mag ons ‘n paar opmerkings maak. Die Bokke skrum volledig. Daarmee bedoel ons dat die tyd toe ‘n Bokskrum koppe begin optel het alvorens die bal onderdeur sy voete is, verby is. Dis soos in die ou dae van skrum, elke lid van die agtal gaan volledig deur die skrumbeweging en bly gebind. Kop af.

Op die aanval skrum die vaskop en die haker so dat hulle wettiglik die opponente se kans op voorvoetbesit beduiwel. Dit doen hulle sonder om “om die skrum” te loop en gestraf te word.

Nieu-Seeland se skrums is baie beter as die Aussies s’n en soos die groot nr.5-slot van die All Blacks, Sam Whitelock dit gister uitgedruk het: “Hulle (die Springbokke) hou van die fisiese aspekte van die spel, dis hoekom hulle soveel sukses met die skrums het. As ons hulle daar kan neutraliseer, het ons ‘n kans om hul aanvalsplatform te verswak. Dan is daar die lynstane, waar hulle ons gereeld weghou van balbesit. Ons het seker gemaak dat ons hulle op dié aspek van die spel gaan aanvat.”

Dan Carter het die Bokke se suksesvolle losgemaal as een van die gevaarlikste aanvalswapens bestempel. “Hulle kry dit reg om meters ver te loop met die losgemaal en ons sal gereed moet wees om hulle op hierdie gevaarlike aspek van die spel te stop, anders het ons probleme.”

Hoe dit ook al sy, Saterdagoggend (SA tyd) sal die twee beste spanne in wêreldrugby mekaar behoorlik die stryd aansê.

Wat op die Bokke wag, mag dalk net so ‘n groot verrassing inhou as die een wat is op Eden Park vir die Kiwi’s wag.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.