Watter afrigters het geslaag en wie het gedop?

Steve Hansen – steeds eerste in die klas. (Foto: Twitter)

Een van die gewildste tydverdrywe ná toetswedstryde is om spelers volgens ʼn puntestelsel uit 10 te beoordeel.

In die ou dae, toe toetse so skaars soos hoendertande was, is daar tot laataand om die braaivleisvuur die beste en swakste Springbokspanne gekies en om die aand mee af te rond, is die beste en swakste afrigter ook aangewys.

Hoe het die huidige afrigters gevaar ná die reeks van toetse wat in Junie gespeel is?

Steve Hansen, All Blacks: 9 uit 10: Die All Blacks was onoorwonne in die reeks van drie toetse teen die Franse, hulle is steeds eerste op die wêreldranglys, nuwe talent het na vore getree, maar ʼn mens wonder of die Franse nie beter sou gevaar het as van die skeidsregtersbeslissings in hul guns geswaai het nie? Tog is dit duidelik, klop die All Blacks en die paadjie na Wêreldbekerroem kan geplavei wees.

Warren Gatland, Wallis: 8 uit 10: Wallis was die verrassingspakkie. Een toets teen die Springbokke en twee teen die Poemas met ʼn verswakte span. Hulle het weg van die huis af gespeel en al drie gewen. Ja, dit was nie teen wêreldbrekers nie, maar daar is ʼn goeie balans en diepte. Gatland weet nou watter spelers het die vaardighede om saam met die grotes mee te ding.

Joe Schmidt, Ierland: 7,5 uit 10: Die Iere het die reeks teen die Wallabies met 2-1 gewen (die eerste keer sedert 1979) nadat Schmidt verskeie spelers van Leinster ná hul klubeindstryd ʼn ruskans in die eerste verloortoets in Brisbane gegee het. Schmidt rig die span baie goed af, ontwikkel die basiese vaardighede van elke speler en sy wedstrydplan is sonder tierlantyntjies. Maar as Jonny Sexton sou seerkry, wag daar probleme.

Jamie Joseph, Japan: 6,5 uit 10: Japan het die reeks teen Italië met 1-1 gedeel en Georgië met 28-0 geklop. Maar met hoeveel buitelandse kalwers wil Joseph nóg ploeg?

Rassie Erasmus, Springbokke: 5 uit 10: Vier toetse gespeel, twee gewen, twee verloor. Daar is lig in die tonnel. Daar is baie nuwe spelers gekies en die ou hande waarop daar teruggeval is, was die gom wat die span in die eerste twee toetse teen Engeland aanmekaar gehou het. Maar daar is steeds nie duidelikheid oor sekere kombinasies en ʼn tweede skakelpaar nie en die verdediging lol steeds. Wat gebeur as dit die dag reën?

Michael Cheika, Wallabies: 4,5 uit 10: Die Wallabies het die reeks teen Ierland die eerste keer in 39 jaar tuis verloor. Die Wallabies bly ʼn gevaarlike span as Israel Folau, Kurtley Beale, Michael Hooper en David Pocock die dag kook. Maar sonder hulle?

Gregor Townsend, Skotland: 4,5 uit 10: ʼn Gebrek aan diepte bly die Skotte se groot probleem. Oorwinnings oor Kanada en die Poemas, maar ʼn verloorslag teen die Amerikaanse Eagles.

Eddie Jones, Engeland: 3,5 uit 10: Voor die toer na Suid-Afrika was Jones grootmond. Ná die toer is hy tjoepstil. Hy kan sy sterre dank dat die Rose die derde toets op Nuweland gewen het, anders was dit dalk klaarpraat. Minder praat, meer doen …

Jacques Brunel, Frankryk: 3 uit 10: Ondanks die reeksneerlaag teen die All Blacks, was daar tog opflikkerings. Soos gewoonlik kan die Franse van die mees skouspelagtige drieë druk, maar,soos gewoonlik, kan hulle ook 50 punte afstaan.

Daniel Hourcade, Poemas: 1 uit 10: Dis geen wonder nie dat hy die handdoek ingegooi het ná die drie verloortoetse tuis teen Wallis en Skotland.

En dan die grootste pluimpie aan die Suid-Afrikaner Gary Gold, wat die Amerikaanse Eagles met groot welslae afrig. Drie oorwinnings oor Rusland, Kanada en toe Skotland. Die Eagles was die enigste span naas die All Blacks en Wallis wat onoorwonne was, met beperkte spelersgetalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snuffels ·

Pieter hoekom kry Hourcade n 1? 0 is ook n punt! Of kry hy die 1 want hy het bedank…dit is darem n 1 werd

volla ·

Ek reken Cheika verdien ‘n hoër punt. Dit was ‘n fantastiese reeks tussen twee spanne wat albei uitstekende rugby gespeel het. Enige span kon daai reeks wen. Rassie dalk ‘n laer punt. Ons was baie gelukkig om die eerste toets teen die Engelse te wen en as jy die Engelse se reeks verlore voor die reeks in ag neem, moes Rassie baie beter gevaar het. Die groot pakslae in die laaste toets was ook uiters swak.

Nico ·

Eerste 4 afrigters almal van Nieu-Seeland, geen wonder hulle rugby is so goed nie !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.