Watter rugbyspan het hoendervel laat kry?

Watter rugbyspan is of was die beste in die spel?

ʼn Mens kan dit sekerlik meet aan ʼn onoorwonne vertoningslys, oor watter spanne hy geklop het en hoe lank hy bo kon bly.

Op toetsvlak moet dit beslis die All Blacks wees, wat ʼn paar keer die wêreldrekord (vir spanne op die hoogste vlak) van 17 en toe 18 opeenvolgende toetsoorwinnings opgestel en verbeter het.

Die Springbokke van Kitch Christie was tussen 1994 en 1996 in 15 opeenvolgende toetse onoorwonne, insluitende die Wêrelbeker-eindstryd van 1995.

Wat van die Springbokspanne wat van 1949 tot 1953 tien toetse op die ry af gewen het, insluitende die reeks van 1949 teen die All Blacks (4-0) en die Grand Slam op die toer van 1951/’52 behaal het deur al vier die tuisunies (en ook Frankryk) te klop?

Wat van Nick Mallett se Springbokspanne wat in 1997/’98 (Carel du Plessis het darem die Bokke in die eerste toets in 1997 teen die Wallabies afgerig voordat hy gepos is) in 17 opeenvolgende toetse onoorwonne was?

Hoe goed was Jake White se Wêreldbekerwenners in 2007, wat 13 toetse op die ry af gewen het?

Wat van Peter de Villiers se Bokke wat die Drienasies gewen het en die Britse en Ierse Leeus in 2009 verslaan het?

Wat van Noord-Transvaal se spanne wat van 1968 tot 1981 die Curriebeker nege keer gewen het en by twee ander geleenthede gedeel het?

Dit was in die dae toe die Curriebekerreeks nog baie waarde gehad het en die kroonjuweel vir enige Suid-Afrikaanse span was.

Wat van die Westelike Provinsie se goue jare tussen 1982 en 1986 toe die Streeptruie vyf keer opeenvolgend die Curriebeker gewen het?

Wat van die Crusaders, wat die Superreeks sedert 1996 reeds agt keer gewen het en in vier ander eindstryde gespeel het?

Wat van die Bulls wat die Superreeks in 2009 en 2010 gewen het?

Wat van die destydse Transvaalspan, wat in 1993 skoonskip gemaak het: die Super10-reeks, die Lionbeker, die Curriebeker en M-Net se aandreeks?

Slegs ʼn paar weke gelede het die Engelse joernaliste nog gespog hoe goed die klub Saracens is.

Dit het gevolg nadat Sarries in die 2015/’16-seisoen die eerste Engelse span sedert 2004 geword het wat die Engelse Premierliga én die Europese Rugbykampioenebeker kon wen; Sarries het dié reeks boonop onoorwonne afgesluit.

Die klub het voortgegaan en die reeks teen die beste spanne in Europa ook in 2016 en 2017 gewen.

Maar nou het hulle ‘n ongekende ses wedstryde op die ry af verloor, insluitende Maandag se nederlaag van 14-46 teen Clermont.

Dit wys jou net, daar steek waarheid in die uitdrukking dat jy net so goed is soos wat jy in jou laaste wedstryd was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nakkie die Nar ·

“Hoendervleis”-dae was die tyd toe N-Tvl onder daai OU hoof paviljoen uitgedraf het: Martin Grundlingh/Corra Dirksen/Koos Meiring/Mauritz Neuhoff/Gerrie Bester/(voor hulle Hans Moller/Perry Enslin)/Gerhard de Haas/Piet Uys/Mof/Piston/Ronnie Potgieter/FRIK!/Stompie vdMerwe/Oupa du Pisanie/Fourie du Preez (snr)…
Teen WP:Lionel Wilson/Gertjie Brynard/John Gainsford/Dave Stewart/Mike Lawless/Dawie de Villiers en die res, Doug Hopwood&Kie. Ons praat nie eers van Tvl en Natal nie! Die Kuhn’s/Malans/Jannie Barnard. DIT, was hoener-vleisdae, en dis WEG, VIR ALTYD…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.