Watter skrumskakel gaan Rassie Erasmus kies?

Faf de Klerk – gaan hy weer kans kry as hy teen Wallis beskikbaar is? (Foto: GB Jordaan)

ʼn Week gelede was daar nog groot kommer in die Springbokkamp oor die onbeskikbaarheid van die skrumskakel Faf de Klerk.

Nou wag daar kopkrap op die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, oor wie om te kies vir Saterdag se laaste toetswedstryd op die jaareind-toer teen Wallis in Cardiff.

Toe De Klerk nie beskikbaar was vir die eerste kragmeting teen Engeland op Twickenham nie omdat dit buite Wêreldrugby se amptelike toetsgleuf geval het, is Ivan van Zyl ingespan.

Van Zyl, wie se spel op dié van Fourie du Preez s’n geskoei is, het De Klerk se skoene baie goed volgestaan. Sy aangeë was suiwer en sy taktiese skopwerk redelik in die kol.

Sy punt uit 10? 6,5.

De Klerk, wat sedert die eerste toets vanjaar in Junie teen Engeland in nege opeenvolgende kragmetings die voorkeur-skrumskakel was, het in die tweede toetswedstryd op toer teen Frankryk in Parys gespeel. Maar hy het nie oortuig nie, omdat die Springbokke se wedstrydplan en die nat veld hom nie gepas het nie. De Klerk het die hoë skoppe oordoen en hy het een van sy swakste vertonings vanjaar gelewer.

Sy punt uit tien was 4,5.

Onthou gerus dat die Springbokke in ses van die toetse waarin De Klerk vanjaar gespeel het, aan die wenkant was. Dit sluit twee oorwinnings oor Engeland en seges teen die All Blacks, Argentinië, Australië en Frankryk in.

Hy is ʼn vegter, spoor sy spanmaats aan en gee nooit moed op nie.

Embrose Papier is Saterdag teen Skotland ingespan omdat De Klerk vanweë sy Engelse klubverpligtinge by die Sale Sharks wéér nie beskikbaar was nie.

Papier het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Hy het een of twee keer vlymskerp gebreek en sy diens aan Handré Pollard was suiwer en vinnig, hoewel sy taktiese skopwerk hom ʼn keer of wat ook in die steek gelaat het.

Sy punt? 7,5 uit 10.

Maar onthou darem ook dat die Skotte nie daarop ingestel was om hom onder druk te plaas nie; nie sy direkte teenstander, Greig Laidlaw of die Skotse voorspelers nie. Teen die meer fisieke Walliesers gaan die druk baie groter wees.

Dis jammer dat die vierde skrumskakel op toer, Louis Schreuder, nooit speelkans gegun is nie. Die Bokke se spelpatroon, wat al hoe meer daarop ingestel is om in die teenstander se gebied te speel, sou sy vaardighede dalk die beste gepas het.

Nou is die vraag wie om te kies.

De Klerk (as hy deur die Sale Sharks vrygestel word), Van Zyl of Papier?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Genieve ·

Gee Papier weer n kans hyt tog die bal lekker versprei so 3bal besitte weggeskop maar ek dink hyt hom goed van sy taak gekwyt.

Henk ·

Skrumskakel is nie ons probleem nie. Binnesenter, Erasmus dis daai ou wat nr12 op sy rug het, DIS die probleem!!! Dis NOU tyd om vir Nel kans te gee en selfs weier te gaan soek vir n spelskepper. Waarom kry Jan Serfontein nie n kans nie? Hou op om vir Pollard te skuif. Dit breek hom af.

What a joke! ·

Stem henk ek stem…Lerato vra my juis so ruk terug wie ek sou speel en Jan is een van die manne wat ek sou kies…Die soort soos de Ellende is nie spelskeppers nie…die bal kom tot daar en dan is dit die einde…Die gevaarlikke vleuel kombinasie en 15 word onder benut oor die bal daar vashaak of weggeskop word elke keer….jammerte..

LHS ·

Geweet hierdie tipe snert gaan na vore kom. Wat verstaan party mense nie dat as die afrigter opdrag gee skop elke bal weg dan doen jy so. Moenie Faf verkwalik vir Erasmus se besluite nie.

Anoniem ·

Stem saam met jou. Die spelers speel ‘n sekere patroon volgens die afrigter se opdrag.

Nico ·

Rassie jy kan maar vir Papier hou. MOET hom net nie PROGRAMEER soos die ander skrumskekels nie. Saterdagaand was so ‘n blik in die verlede toe die skrumskakel net dit was en die losskakel soos dit hoort meermalle die besluite geneem het.

Spike ·

Ek het altyd gedag die bokke het eerste keuse op die spelers. As dit anders is, kies die wat wil speel en altyd beskikbaar is

Spark Plug ·

Faf skop alles weg en sit die bokke self onder druk..terwyl papier die bal meer afstuur in die lyn. Dan…ne, dan gaan die bal dood by daai elendeling. So..los die scrummy en sorteer die senter uit

Swartwolf ·

Sparkie jy is ‘n rugby kenner. Stem 100% saam oor ellendeling. Bal gaan dood en van die vaste voories is vinniger as hy oor 30 m.

Johan ·

Ras as jy hier lees dan is die besluit hou vir Papier en se hy Moet die situasie voor hom speel.Jou probleem is op 12,spoed,hande,voete,visie…alles wat n great 12 maak ontbreek.Tim Horan,Brendan Venter, Etienne Botha,Dick muir,Hennie let Roux was nie een groot en stamkarre nie…dis wat jy soek op 12,die Naaste wat ons het is Serfontein…dan RG saam Eben….die res Kies hulself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.