WB-aanspraakskandale skud WR wakker

Dit wil lyk of vanjaar se skandale in die Europese en Oseaniese aanspraakstryde, met die oog op deelname aan die toernooi om die Wêreldbeker (WB) aanstaande jaar in Japan, uiteindelik die sluimerende Wêreldrugby (WR) wakker geskud het.

Die internasionale beheerliggaam se voorsitter, Bill Beaumont, sê op die WB-webwerf dis belangrik dat “die spel” uit die “ongelukkige omstandighede” leer, sodat ʼn herhaling van die gebeure voorkom kan word.

Beaumont sê hy verbind hom daartoe om ʼn “gesonde en doeltreffende stelsel om gehoorgewing te verseker” daar te stel.

In Europa het die debakel ontstaan toe die bevraagtekende optrede van ʼn Roemeense skeidsregter daartoe gelei het dat België vir Spanje klop sodat Roemenië, en nie Spanje nie, sy plek in die WB-toernooi in Japan kon bespreek.

Uiteindelik is Roemenië, Spanje en België al drie uit die aanspraakstryd geskors nadat die gebruik van ontoelaatbare spelers ook aan die lig gekom het.

In Oseanië het die gebruik van ontoelaatbare spelers eweneens daartoe gelei dat Tahiti sy gewestelike titel en WB-uitspeelkans ontneem is en dit aan die Cook-eilande toegeken is.

Onder die stappe wat deur WR voorgestel word, is dat hy voortaan self toesig sal hou oor die aanstelling van alle skeidsregters vir WB-aanspraakstryde.

Die proses rakende die toelaatbaarheid van spelers sal in sy geheel hersien word, en die “lewensvatbaarheid” van ʼn internasionale databasis van “vasgelegde” spelers sal ondersoek word.

Dis haas ondenkbaar dat so ʼn databasis nie reeds bestaan nie. Hoe anders kan die toelaatbaarheidsreël (Regulasie 8) doeltreffend afgedwing word?

WR sê hy sal ook verseker dat spelers behoorlik opgevoed word wat dié regulasie betref.

Die wêreldliggaam kyk voorts indringend na die bydrae van Rugby Europa se toernooie binne die konteks van die WB-aanspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Judge Dredd ·

En hoekom kry SA meestal ‘n swak Franse skeidsregter om teen ons in toetse te blaas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.