WB-heruitdun besaai met spelers uit SA

Suid-Afrikaners sal die heruitdun in Marseille, Frankryk, met die oog op deelname aan aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker (WB) met buitengewone belangstelling volg, want dit is met spelers uit Suid-Afrika besaai.

Kanada (wat tot dusver nog geen toernooi misgeloop het nie) spook sake teen Hongkong, Kenia en Duitsland uit. Laasgenoemde drie streef almal na ʼn eerste kans.

Die wenspan sal nie net saam met Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Italië en Namibië in Groep B speel nie, die deelnemende spanne is besaai met spelers met Suid-Afrikaanse wortels.

Boaan die lys wat Suid-Afrikaners betref, is Duitsland met die oud-Tukkie Kobus Potgieter as sy rugbydirekteur en 12 spelers met Suid-Afrikaanse bande.

Vyf van die twaalf – Jaco Otto (20 toetse), Marcel Coetzee (14), Wynston Cameron-Dow, Nikola Klewinghaus (vier elk) en Ayron Schramm (drie) – is gewese KwaZulu-Natallers.

Boonop is een van die hulpafrigters, Mouritz Botha, in Vryheid in dié provinsie gebore. Hy het in tien toetse vir Engeland gespeel, voor hy op sy “oudag” ʼn draai by die Sharks gaan maak het.

Sebastian Ferreira (12 toetse) het die Kings verteenwoordig, en Jarrid Els (18) vir Grens.

Michael Poppmeier (24 toetse) en Dasch Barber (nege) het albei vir die Kaapse klub Valsbaai gespeel, Raynor Parkinson (32) vir die Universiteit van Johannesburg, en Marcel Henn (vyf) vir die NWU Pukke.

Die nuweling Kurt Haupt het vir Suidwestelike Distrikte uitgedraf.

Parkinson is met 297 die voorste puntemaker in Duitsland se rugbygeskiedenis, en Otto met 18 die voorste driedrukker. Sy 90 punte is op die koop toe die tweede meeste toetspunte in die Duitse rekordboek.

♦ Daar is vyf spelers met ʼn Suid-Afrikaanse agtergrond in Hongkong se span: Matt Rosslee (losskakel), Liam Slatem (skrumskakel), Dylan Rogers, Grant Kemp (stutte) en Dayne Jans (haker).

Rosslee, Slatem en Rogers het op verskillende vlakke vir Griekwas gespeel, Kemp het Suidwestelike Distrikte in die Curriebeker-reeks verteenwoordig, en Jans het vir Westelike Provinsie o. 21 gehaak.

Die 30-jarige Kemp is die enigste nuweling tussen die vyf. Rosslee (18 toetse), Rogers (12), Slatem (sewe) en Jans (vyf) het almal vantevore reeds die Draketrui gedra.

Rosslee se 159 toetspunte is die meeste deur enige Hongkongse speler tot op hede.

♦ Vir die 32-jarige Kanadese veteraan DTH van der Merwe, wat in Worcester in die Boland gebore is, hou die heruitdun ʼn besondere betekenis in.

As Kanada sy plek kan bespreek, het Van der Merwe ʼn goeie kans om aanstaande jaar in sy vierde WB-toernooi te speel.

Ná 52 toetse (12 daarvan in WB-toernooie) sedert 2006 is hy met 32 Kanada se voorste toetsdriedrukker. Ses daarvan is in WB-toernooie gedruk.

Die Kanadese groep sluit ook Guiseppe du Toit (13 toetse) in, wat in Johannesburg gebore is.

♦ Kenia word deur die Nieu-Seelander Ian Snook afgerig, wat vroeër Grens se Curriebeker-span gebrei het.

As ʼn mens jou aan Wêreldrugby (WR) se ranglys moet steur, is Hongkong (21ste) die gunsteling om die toernooi te wen, en Duitsland (29ste) se kans die geringste. Kanada is 23ste en Kenia 28ste gekeur.

Die bepalings –

Sondag 11 November

Kanada teen Kenia
Hongkong teen Duitsland

Saterdag 17 November

Hongkong teen Kenia
Kanada teen Duitsland

Saterdag 24 November

Kenia teen Duitsland
Hongkong teen Kanada

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.