WB-jaar: Blitsbokke se staatmakers terug in mees ervare span

Die nasionale afrigter Neil Powell het Vrydag die mees ervare Blitsbokspan nóg bekend gemaak vir die eerste toernooi in Wêreldrugby se 2017/’18-sewesreeks wat op 1 en 2 Desember in Dubai gespeel word.

Die Springbok-sewesspan het verlede jaar die reeks van tien toernooie gewen en sal daarna mik om in Julie ook in San Francisco die sewende sewes-Wêreldbeker te wen.

Vier staatmakers wat om verskeie redes nie deurgaans in verlede jaar se reeks gespeel het nie, is terug in die span.

Die voormalige kaptein Kyle Brown, wat verlede jaar net in die eerste twee toernooie gespeel het voordat hy beseer is, en Justin Geduld wat die laaste vyf toernooie in  die reeks misgeloop het, is fiks en slaggereed.

En dan is die groot driedrukker Seabelo Senatla en die alomteenwoordige sewesvoorspeler Kwagga Smith ook weer by die sewes-Bokke nadat hulle eers Superrugby en toe in die Curriebekerreeks provinsiale rugby gespeel het.

Slegs die Blou Bulle se groot flank Tim Agaba (10 toernooie, 49 wedstryde) wat onder John  Mitchell in die Curriebekerreeks die aandag as baldraer getrek het, het van die twaalftal Blitsbokke minder as 21 toernooie en 104 wedstryde agter sy naam.

Marco Labuschagne, met een toernooi en twee wedstryde se ondervinding, is die reserwe indien iemand in  ʼn toernooi beseer sou word en nie verder kan speel nie.

♦  Philip Snyman, wat aanstaande naweek in sy 48ste toernooi speel, is weer as kaptein  aangewys.

Springbokgroep vir Dubai –

  1. Chris Dry (62 toernooie, 298 wedstryde, 455 punte, 91 drieë)
  2. Philip Snyman (kaptein, 47 toernooie, 207 wedstryde, 296 punte, 53 drieë)
  3. Tim Agaba (10 toernooie, 49 wedstryde, 30 punte, 6 drieë)
  4. Kwagga Smith (28 toernooie, 135 wedstryde, 275 punte, 55 drieë)
  5. Werner Kok (29 toernooie, 142 wedstryde, 350 punte, 70 drieë)
  6. Kyle Brown (58 toernooie, 285 wedstryde, 395 punte, 79 drieë)
  7. Branco du Preez (55 toernooie, 275 wedstryde, 1 049 punte, 77 drieë)
  8. Rosko Specman (21 toernooie, 111 wedstryde, 273 punte, 49 drieë)
  9. Justin Geduld (30 toernooie, 152 wedstryde, 677 punte, 75 drieë)
  10. Cecil Afrika (53 toernooie, 273 wedstryde, 1 297 punte)
  11. Seabelo Senatla (33 toernooie, 167 wedstryde, 945 punte, 189 drieë)
  12. Ruhan Nel (21 toernooie, 104 wedstryde, 182 punte, 36 drieë)
  13. Marco Labuschagne (reserwe, 1 toernooi, 2 wedstryde, 0 punte)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes ·

Baie goeie span. Alles van die beste vir die seisoen. Nou kan ons weer lekker en goeie rugby kyk. Ek en my vrou volg al julle wedstryde stiptelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.