WB-loting saam met All Blacks het vir Bokke ʼn silwer randjie

Suid-Afrika is Woensdagoggend in Tokio vir die 2019 Wêreldbekertoernooi in groep B saam met Nieu-Seeland, Italië, Afrika 1 en die uitspeelwenner van die nie-kwalifiseerders geloot.

Dit is die eerste keer dat die Springbokke in dieselfde groep as Nieu-Seeland geloot word (en Italië se sesde keer!)

Op die oog af wil dit lyk of dit ʼn ongunstige loting vir die Springbokke is, maar deur in dieselfde groep as die All Blacks te wees beteken dit dat die Bokke nie in die kwarteind teen die wêreldkampioene te staan sal kom nie.

Heyneke Meyer se span het wel in die 2015-Wêreldbekertoernooi in die halfeind teen Nieu-Seeland gespeel en met twee punte, 18-20, verloor.

Die Springbokke se uitdaging sal benewens die All Blacks wees om Italië, teen wie hulle verlede jaar verloor het, in die groepfase te klop indien hulle na die kwarteind wil vorder – iets wat Suid-Afrika tot dusver in elk van hulle ses Wêreldbekertoernooie vermag het.

Afrika 1 sal die span wees wat die Afrika-kampioenskap wen.

Twee neerlae in die groepfase sal feitlik gewis die einde beteken van enige span se aspirasies om die kwarteind  te haal.

Twee kwalifiseerders kom uit elk van die groepwenners van die Amerika’s, Europa en Oseanië. Nog twee, die uitspeelwenner in die gebiede wat nie een van genoemde groepwenners is nie, en die wenner van die uitspeel-rondomtalie van vier nie-kwalifieerders, voltooi die agt spanne wat nie direk gekwalifiseer het nie.

Al die kwalifiseerders sal eers teen November bekend wees.

♦  In groep A is twee van die Sesnasiesspanne, Ierland en Skotland, die gunstelinge om na die kwarteind deur te dring.

Die gasheerland Japan is ook in groep A geloot. Die Japanners het in 2015 die wêreld verras en Suid-Afrikaners geskok toe hulle in die openingswedstryd met die Springbokke klaargespeel het, maar het later in die groepfase met 10-45 teen Skotland verloor.

Die vierde span in hierdie groep, Europa 1, moet nog die kwalifiserende ronde voltooi. Daar is ʼn hele paar aanspraakmakers. Die vyfde span in groep A is die uitspeelwenner nadat die ander kwalifiseerders, Europa 1 en 2, Oseanië 1 en 2, Amerika’s 1 en 2 bepaal is.

♦  In groep C sal Engeland met Frankryk en Argentinië te doen kry.

Dit is drie gehaltespanne, en reeds word dit die “Groep van die dood” genoem.

Laasgenoemde twee het die moeilike taak teen die span wat die afgelope jaar die grootste vordering getoon het.

Ook in groep C is Amerika 1, wat waarskynlik die VSA of Kanada sal wees. Albei kan op hulle dag ʼn moeilike kalant wees.

Die vyfde span in groep C is Oseanië 2 – en Samoa en Fidji is hier die vernaamste aanspraakmaker om hulle uitspeelwedstryde in die streek te wen, hoewel veral Tonga nie onderskat durf word nie.

In groep D speel die boonste span, Australië, in die groepfase teen Wallis en Georgië. Die ander twee spanne is Oseanië 1 en Amerika 2.

Die groepe –

Groep A

Ierland
Skotland
Japan
Europa 1
Uitspeelwenner

Groep B
Nieu-Seeland
Suid-Afrika
Italië
Afrika 1
Wenner uitspeel-rondomtalie van vier nie-kwalifieerders

Groep C
Engeland
Frankryk
Argentinië
Amerika 1
Oseanië 2

Groep D
Australië
Wallis
Georgië
Oseanië 1
Amerika 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietman ·

Maar daar is ook ‘n donker wolkie in die vorm van Italië.

Christian Schoeman ·

Dit hang af hoe die Bokspan in 2019 lyk. Teen daardie tyd kan Italie dalk die Bokke ondersit en dan haal hulle nie eers die kwarteindes nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.