WB-toernooi: Japan skok Iere

Japan se spelers ná hul sege oor Ierland. (Foto: Kyodo News, AP)

Vier jaar gelede in Brighton, Engeland, het Japan se rugbyspan vir een van die grootste skokke nog in die Wêreldbeker-rugbytoernooi gesorg toe die Japanners die Springbokke met 34-32 geklop het. Saterdag in Shizuoka het hulle dit weer gedoen deur Ierland met 19-12 in Groep A af te ransel.

Die Japanners was rustyd met 9-12 agter, maar hulle het die Iere in ʼn lokval in die hitte gelei. Hulle het hulle gemesmeraais, van hul voete af gehardloop, die Iere se nerwe afgeduik. Hulle was soos miere by die losskrums, het besit en gebiedsvoordeel oorheers.

Die Iere, wat tweede op die wêreldranglys is, het verdwaas voorgekom. Hulle het aan bomskok ná die Japanse blitsaanval gely.

Die knuppel is nou in die duiwehok gegooi, want Japan is die enigste onoorwonne span in Groep A en kan eerste eindig, om ʼn uitspeelwedstryd teen die Bokke in die kwarteindronde af te dwing. Dit kan ook beteken dat die All Blacks die Iere moet pak.

Voor die toernooi het die Japanse afrigter, Jamie Joseph, gesê sy grootste mikpunt is om die kwarteindronde te haal.

Nou besef ons dié oud All Black-flank weet waarvan hy praat.

Net soos in 1995, toe die Springbokke die WB-toernooi tuis gewen het, brand die rugbyvlam nou baie hoog in Japan.

Dit is reeds die mees suksesvolle toernooi nog, met die Japanners wat dit omarm, al weet die meeste van die toeskouers nie te veel van rugby af nie.

Nou gaan die res van die toernooi uit sy nate bars.

Daar was 15 begeesterde Japanse helde, asook die plaasvervangers wat opgestuur is, maar niemand  het beter gespeel as haker Shota Horie, die flank en kaptein, Lappies Labuschagne, koelkop-losskakel Yu Tamuru en plaasvervanger Michael Leitch nie.

Nou weet ons watter verlies dit was toe Labuschagne nooit tot sy reg in Suid-Afrika gekom het nie en die pad na Japan gevat het.

En die Iere?

Net soos die Bokke in 2015, moet hulle nou die stukkies optel met die wete dat nog geen span die WB-toernooi kon wen as hulle nie ook in die groeprondes onoorwonne kon bly nie.

Wat soos ʼn paal bo water uitstaan, is dat die Iere sonder Johnny Sexton en die binnesenter Bundee Akee maar papiertiere is.

* Punte: Japan 19 (9): Drie: Kenki Fukuoka. Doelskop: Yu Tamura. Strafdoele: Tamura (4).

Ierland 12 (12): Drieë: Garry Ringrose, Rob Kearney. Doelskop: Jack Carty.

* In die eerste wedstryd in Hanazono het die Argentynse Poemas soos ʼn sneltrein teen Tonga afgesit en binne 27 minute vier drieë gedruk om met 28-0 voor te loop, maar toe hul voete van die versneller afgehaal deur net met 28-12 te wen.

As die Poemas soos in die eerste halfuur speel, kan hulle die kwarteindronde haal, maar as hulle lyf wegsteek soos in die tweede helfte, kan hulle maar hul kaartjies bespreek vir ʼn vroeë vlug terug Buenos Aires toe.

Die Poemas se groot hoogtepunt was die driekuns aan drieë deur haker Julian Montoya. Hy het nou reeds vier drieë in vanjaar se WB-toernooi gedruk nadat hy net twee drieë in sy eerste 43 toetse kon druk. Dit was ook die Poemas se eerste oorwinning nadat hulle tien wedstryde op ʼn streep verloor het.

* Punte: Argentinië 28 (29): Drieë: Julian Montoya (3), Santiago Carreras. Doelskoppe: Benjamin Urdapilleta (4).

Tonga 12 (0): Drieë: Telusa Veainu (2). Doelskop: Sonatane Takulua.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swartwolf ·

Briljante wedstryd Japan. Iere get geen raad gehad nie. Goeie afrigting, ‘n wedstrydplan, spelers wat wil en kan en die regte kondisionering het, asook mees belangrikste goeie leierskap op die veld wen toetse. En was Lappies nie briljant nie ? Volle 80 min gespeel, van voor af gelei, met sy spelers gepraat en inspireer tot die einde. Wat ‘n spanpoging wat ‘n kaptein.

My bloed is groen ·

Vergeet daarvan om ‘n rooi vlag voor ‘n bul rond te swaai, om in ‘n groen trui teen Japan in ‘n Rugby Wereldbekerwedstryd te speel is veels gevaarliker. Japan se wen het die hele dinamika van die toernooi omver gewerp.

Frans C ·

Weereens ‘n bewys dat twee NZ-afrigters beter as een is en dat All Black-afrigters weet hoe om teenstanders te ontleed en sterk punte te neutraliseer.

AB ·

Lappies is ‘n puik speler en kaptein. Net jammer hy is te wit vir die bokke!

Vita ·

Lappies was baie goeie kapt en mens kon dit sien,hy het die heeltyd met sy manne gepraat, nie soos die bok kapt was die heeltyd in agterlyn staan en nooit met sy mense praat nie

Swartwolf ·

Of idiotiese geluide op tv maak of versimpelde liedjies in die tonnel sing nie.

Petrus ·

Ja, Japan speel met trots en die wil om te wen. SA kan baie van hulle leer: Trots, hoe om te verdedig en hoe om aan te val. Die Bokke kry nie balle by die vleuels nie, want almal wil stormram rugby speel ipv om die bal die werk te laat doen. Soos Errol Tobias altyd se: “Vinnige hande.” Die span wat die beker wil lig, moet hardloop rugby speel en verdedig soos Japan.

gindra ·

jy speel nie in n groen trui teen japan in n world cup nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.