Wedstryde word op die oefenveld gewen of verloor

Johan Ackemann voor `n wedstryd (Foto lionsrugby.co.za)

Johan Ackemann voor `n wedstryd (Foto lionsrugby.co.za)

Daar is seker niks verkeerd daarmee wanneer ʼn span opgewonde raak oor sy opwarmwedstryde en oefeninge voor rugbywedstryde nie, maar dit kan ook met ʼn knippie sout geneem word en ʼn wanindruk skep.

Dis hoekom ʼn mens die Lions se afrigter, Johan Ackermann, moet glo toe hy Saterdagaand op Nuweland ná die oefenwedstryd teen die Stormers gesê het “moenie worrie  nie, ons het baie weggesteek”.

In die Stormerskamp is die verwagtinge baie hoog, want die Kapenaars het die voor-seisoen baie goed begin met oorwinnings oor die Cheetahs, SWD-Arende en die Lions. Sal dit oorspoel na die Superrugbyreeks, wanneer die Stormers teen die Crusaders, Hurricanes, Highlanders, Chiefs en Blues speel?

♦  In die ou dae, toe die spanne se oefeninge nog oop was, is daar baie daarin gelees. In sekere kringe is daar gesê ʼn span speel soos hy oefen, maar die teendeel was ook waar.

Ek was by talle oefeninge waar die hantering maar beroerd was, waar die haker die bal skeef ingegooi het in die lynstane, waar die pak maar effe-effe geskrum het. Die Saterdag was dit ʼn ander storie, alles het klopdisselboom verloop.

Ek was ook by baie talle ander oefeninge waar alles seepglad verloop het, die bewegings in op volle vaart uitgevoer is, maar steeds het die span verloor.

“Ek kan dit nie verstaan nie, ons het tog só goed geoefen,” was maar altyd die afrigter se kommentaar, want wat anders kon hy sê?

Toe die Franse in 1993 deur Suid-Afrika getoer het, het dinge vroeg op toer maar so-so verloop. Die toerspan het gesukkel om die OP (18-9) en WP (12-6) te klop en is deur die SA B-span met 35-22 verslaan. Toe die Franse ook gelykop teen die Vrystaat (22-elk) gespeel het, is daar gesê dat hulle soos skape na die slagpale gelei sou word.

Daar was talle probleme, want die kaptein, Jean-Francois Tordo, se toer is vroeg beëindig toe hy deur Garry Pagel in die gesig getrap is. Boonop was Abdelatif Benazzi op die krukkelys en het die jong spelers nie die mas opgekom nie.

Die afrigter, Pierre Berbizier, het die toerwedstryde as ‘oefeninge’ gebruik om sy jonger spelers te toets, om te kyk wie die Bokke kan pak.

Die span het voor die eerste toets vir twee dae in die Krugerwildtuin gaan uitspan en binne tien minute van ’n oefening, het die gevaarligte geflikker.

Berbizier het sy toetsspan die eerste keer saam laat oefen en toe kon ʼn mens sien van watter stoffasie die span gemaak was.

Die toetsreeks is met 1-0 gewen (20-elk en 18-17).

Dis hoekom ek nooit te veel in opwarmwedstryde en oefeninge lees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

‘n Span om dop te hou hierdie jaar is die Crusaders.Hul het talle opwindende aanwinste bygekry en die Highlanders 50-33 geklop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.