Weer kan in SA’ners se guns tel

Die vlugvoetige Kurt-Lee Arendse is een van die Bulls se sterre. Foto: GB Jordaan.

Uiteindelik!

Die Bulls, Lions, Sharks en Stormers speel hierdie naweek gasheer vir oorsese Verenigde Rugbykampioenskap-spanne wanneer hulle onderskeidelik teen Munster, Cardiff, Scarlets en Zebre kragte meet.

Die vier oorsese spanne se aanvanklike Afrika-safari is deur die Omikron-variant in die wiele gery.

En volgens Johann van Graan (Munster-afrigter) wag daar ’n reuse-uitdaging op Munster en Kie. Die besoekende spanne is weens Sesnasies-verpligtinge sonder die meeste van hul sterre, terwyl die weertoestande ook in die plaaslike unies se guns kan tel.

“Ons verwag ’n fel stryd teen die Bulls op Loftus Versfeld en die Lions in Johannesburg. Suid-Afrikaanse spanne moes in Europa die koue aandurf, nou is dit ons beurt om die hitte te voel,” het Van Graan gesê.

’n Vinnige googleloer-sessie wys die weerprofete voorspel dat dit Saterdag 27 °C in Pretoria gaan wees; kwalik ’n hittegolf in Suid-Afrika, maar steeds hoogsomer vir die meeste Europeërs.

“Dit gaan warm in Suid-Afrika wees, terwyl die Bulls en Lions altyd gedugte teenstanders op hul tuisveld is.”

Munster het die afgelope naweek Dragons met 64 – 3 afgeslag om hul plek op die VRK-punteleer te verstewig. Terselfdertyd het ’n sterbelaaide Bulls-span lekker aanvallende rugby teen Griekwas in Kimberley gespeel.

“Die manne sien uit na die uitdaging. Ja, ons is ’n paar sterre weens Sesnasie-pligte kwyt, maar ons wil onsself graag teen die Suid-Afrikaanse spanne in hul agterplaas meet.”

Die Bulls se Marcell Coetzee glimlag waarskynlik ook as hulle na Bismarck du Plessis se spelpeil kyk.

Die veteraanhaker het Saterdag soos ’n wafferse agterspeler in Kimberley te kere gegaan en hy lyk lus vir rugby.

“Die ‘oupa’ speel goeie rugby! Hy was vir die jonger spelers hoe dit gedoen moet word en ek is ongelooflik trots op hom,” het Coetzee gesê.

Die Bulls is tans 11de op die VRK-punteleer en ’n goeie vertoning teen Munster sal hul selfvertroue beslis ’n hupstoot gee.

  • Die naweek se bepalings:

Vrydag: Sharks teen Scarlets om 19:10.

Saterdag: Bulls teen Munster om 16:05.

Sondag: Lions teen Cardiff (16:00) en Stormers teen Zebre (18:05).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Spearhead ·

Kurt-lee Arendse sal sy balle vang dringend moet opskerp. Hy vang gereeld hoë balle mis. Sy algemene spel is redelik maar sy duikslae is ook nie op standaard nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.