Weerlig staak spel in Kimberley

Foto: @GriquasRugby/Twitter

Tik enige rugbyondersteuner met ʼn veertjie om. Nadat die Lions se kragmeting in die Superrugby Unlocked-reeks teen die Vrystaat-Cheetahs ʼn paar weke gelede nie kon plaasvind nie vanweë die Covid-19-pandemie, is die Goue Leeus se Curriebekerwedstryd Saterdag in Kimberley teen Griekwas weens weerlig gestaak en toe afgelas.

Sal dinge ooit weer na normaal kan terugkeer wanneer die koronavirus hopenlik wyk of ʼn entstof gevind word?

Sal rugby weer voor toeskouers gespeel kan word en hoeveel ander wedstryde kan dalk ook in die gedrang kom omdat daar nou in die somermaande rugby gespeel word?

In Kimberley was die Leeus met 20-17 voor toe die donker onweerswolke saamgepak het en die weerligstrale geblits het. Volgens die reëls moes almal kleedkamer toe ná 48 minute.

Griekwas was vroeg voor nadat HJ Luus, Eduan Keyter en John Verity-Amm drieë gedruk het.

Die Leeus het teruggeveg ná twee drieë deur Courtnal Skosan asook ʼn strafdrie nadat Griekwas herhaaldelik op hul doellyn oortree het.

Met Griekwas op die aanval het die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, die wedstryd tot halt geroep omdat daar weerlig binne een kilometer van die stadion geslaan het.

Volgens die reëls moes daar binne 30 minute ʼn besluit gemaak word of spel hervat kon word, maar aangesien die swaar weer nie gewyk het nie, was daar geen ander keuse nie.

Die vraag is nou: Sou Griekwas, of die Leeus, nie die toestande (saam of teen ʼn sterk wind) kon benut het nie? Wat van die plaasvervangersbanke wat ʼn verskil kon maak? Maar as is mos maar verbrande hout.

Punte: Leeus 20 (13): Drieë: Courtnall Skosan (2), Strafdrie (7 punte). Strafdoel: Elton Jantjies

Griekwas 17 (17): Drieë: HJ Luus, Eduan Keyter, James Verity-Amm. Doelskop: Tinus de Beer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Leeus het totaal verroes gelyk en was mi gelukkig om die een te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.