Wees maar bly reël 20 geld nie meer nie

Wanneer rugbyreëls deesdae aangepas en gewysig word, is dit ʼn groot storie.

Dis ʼn lang en uitgerekte proses, dit word eers in óf die Noordelike óf Suidelike Halfrond op die proef gestel en eers later in albei toegepas.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het nou toestemming by Wêreldrugby gekry om die jongste reëlproefnemings (van ses reëls), wat dadelik in die Noordelike Halfrond gebruik gaan word maar eers van 1 Januarie af in die Suidelike Halfrond toegepas sal word, reeds van Vrydag af in die Curriebekerreeks te gebruik.

Dit is sekerlik gedoen met die oog daarop dat die Cheetahs en Southern Kings (gaan dit hul naam bly?) in September in die nuwe Pro14-reeks daaraan blootgestel sal word.

Dit sal nog nie in die Rugbykampioenskap gebruik word nie en behoort nie te veel verwarring te veroorsaak nie.

Die nuwe wysigings, soos  stutte wat nou ook die bal mag haak; agtstemanne wat die bal voor hul voete in ʼn skrum mag optel; skrumskakels wat die bal reguit in ʼn skrum moet ingooi (maar eintlik maar onder sy haker se voete!); spelers wat ʼn duikslag uitvoer wat eers moet opstaan voordat hulle die bal mag gaps; en spelers wat nie die bal in ʼn losskrum vorentoe mag skop nie, maar dit wel agtertoe kan doen, sal nie groot rimpelings veroorsaak nie

♦  Wees maar bly dat die eerste stel van 37 reëls, wat op 28 Augustus 1845 ná drie dae se beraadslaging deur ses leerlinge van die Rugby-skool in Engeland goedgekeur is, nie meer geld nie – en veral nie reël 20 nie.

Dit het bepaal dat ʼn wedstryd ná vyf dae as gelykop verklaar sal word, maar ná drie dae as daar nie ʼn doelskop oorgeklits is nie.

Dink net hoe die Kiwi’s sou gekla het as die Crusaders dalk nog vyf dae langer in die land moes bly ná Saterdag se eindstryd van die Superreeks.

♦  In 1906 het die hoofkonstabel van Cardiff ook vir ʼn reëlwysiging gesorg in die toets tussen Skotland en Engeland.

Dié man het tydens die toets in volle uniform op en af gestap om te patrolleer.

Die Skotse legende Darkie Bedell-Sivright was op pad na Engeland se doellyn, maar het toe in die doelgebied teen die hoofkonstabel vasgehardloop.

Bedell-Sivright het die bal verloor, dit het terug in sy hande gespat, maar die drie is nie toegeken nie.

Die reël is toe verander dat enige ondersteuner in die doelgebied as “in spel” bekou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.