Wees maar steeds katvoet vir die Engelse

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, en die Bokondersteuners sal in ʼn groot strik trap as hulle te veel in Sondag se reuse-oorwinning van die Barbarians teen Engeland op Twickenham lees.

Ja, van die Engelse se leemtes is kort voor hul toer na Suid-Afrika oopgevlek en die spelers is verguis nadat hulle met 63-45 deur die Barbarians geklop is. Die kop van die afrigter, Eddie Jones, word selfs in sekere kringe  geëis.

Rugby gaan wel oor momentum, om op die wenpad te bly, maar dié kragmeting was dalk die ideale voorbereiding vir ʼn uitgedunde Engelse span (hulle moes sonder die toetsspelers van Saracens en die Exeter Chiefs) klaarkom.

Jones het ook ʼn hele paar proefnemings gedoen en die Engelse het, soos die Baabaas, hardlooprugby probeer speel wat hulle nie gepas het nie.

Al wat ek sê, is dat Kitch Christie se Springbokke in 1994 met 23-14 deur die Barbarians geklop is ‒ net sewe maande voordat hulle die Wêreldbeker omhoog gehou het.

Die Bokke het toe ook hardlooprugby probeer speel, terwyl die Barbarians op tienmanrugby staatgemaak het.

Wat van die Barbarians se sege van 26-20 oor die Bokke in 2010? Wat van hul oorwinning van 70-38 oor Ierland in 1996, en wat van hul sege van 74-31 oor die Skotte in 2001 en in 2009 oor die All Blacks toe hulle met 25-16 geseëvier het?

Die Baabaas is dié dag deur Nick Mallett afgerig, kon net twee ligte oefeninge in die aand inpas en die oud-Springbokvleuel, Bryan Habana, het drie drieë gedruk, net soos Chris Ashton Sondag drie keer agter die pale van sy oudspanmaats gaan kuier het.

Wat wel waar is, is dat die Engelse rugbyskrywers en ondersteuners (en dalk ook van die spelers) te arrogant geraak het, in ʼn gemaksone verval het en te veel meegevoer is met die Engelse se 18 opeenvolgende toetsoorwinnings.

Rugby is soos ʼn wiel wat draai: dán is jy bo, en dán is jy onder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wesley ·

Wag nou bietjie Pieter… In een berig se jy hoe gelukkig die Bokke is hul speel nie teen beter teenstanders nie, en bejammer die feit dat daar so baie nuwelinge is, maar hier prys jy die feit dat Jones die ideale geleentheid gebruik het met n groentjie-span om voor te berei vir die Bokke teen die Baabaas? Dit mag dalk n toets en nie-toets wat ons hier vergeyk, maar kan jy verduidelik hoe verwag jy dieselfde vol-krag span moet oor hoeveel tydsones aanpas net n week uitmekaar? Ideale situasie dalk nie, maar ideale geleentheid beslis…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.