Wees realisties met Pollard, vra Nienaber

Handré Pollard. (Foto: GB Jordaan)

Gee vir Handré Pollard darem ook ʼn kans om weer sy voete op die internasionale verhoog te vind.

Dít – in ʼn neutedop – was Jacques Nienaber se antwoord toe hy oor die losskakel se teenwoordigheid in die Springbokke se opdrafspan vir Sondag se Wêreldbeker-wedstryd teen Tonga uitgevra is.

Die 29-jarige speler sal die nommertientrui vir die Suid-Afrikaners in Marseille dra en baie ondersteuners hou duim vas dat hy sommer uit die staanspoor met ʼn vyfstervertoning vorendag sal kom.

Maar, net soos Rassie Erasmus se “Pollard-is-nie-Superman-waarskuwing” van vroeër, meen Nienaber dat ʼn mens realisties oor sy terugkeer moet wees.

“Handré het vir ʼn volle 13 maande nie vir die Bokke gespeel nie – sy laaste toets was in Augustus 2022 en hy het nou vir 19 weke geen topvlakrugby gespeel nie,” het die Springbok-afrigter gesê.

Hy weet egter dat Pollard ʼn waardevolle toevoeging tot die span is.

Die oudleerder van Paarl Gimnasium het by die vorige Wêreldbeker-skouspel in Japan sy beste skopkelkievertonings vir die uitspeelwedstryde gelos.

Die Leicester Tigers-speler het toe altesaam 25 punte in die kwart- en halfeindstryd aangeteken, waarna hy met sy 22 punte teen Engeland die telbord aan die gang in die eindstryd gehou het.

Handré Pollard. (Foto: Hansie Linde.)

“Handré is ʼn topspeler en ons almal weet dit. Hy het al ʼn Wêreldbeker én ʼn reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewen. Hy weet dus wat internasionale rugby behels, maar ons moet ook realisties wees en hom tyd gun om weer aan die tempo van die spel gewoond te raak.”

In Pollard se afwesigheid het die mediakollig al hoe meer op die Bokke se geploeter agter die skopkelkie begin skyn.

Die Suid-Afrikaners het die afgelope kragmeting teen Ierland met net vyf punte verloor nadat hulle 11 stelskoppunte weggesmyt het.

Rassie Erasmus het egter ná die wedstryd in die bresse vir Manie Libbok getree. Die 25-jarige Humansdorp-boorling se aanvalswerk is uit die boonste rakke, maar hy sukkel met sy selfvertroue wanneer hy moet aanlê pale toe.

“Manie speel tans briljante rugby. As jy die verskillende dinge wat hy op die veld doen teen mekaar opweeg, maak hy ʼn reusebydrae tot die span. Maar sy stelskopwerk is nie op standaard nie – hy weet dit, ons weet dit en die wêreld weet dit,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.

Maar hopelik kan Pollard ook spoedig tot die Bokke se sukses bydra. Om ʼn speler in jou groep te hê wat met meer as 600 toetspunte agter sy naam spog, is beslis nie te versmaai nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Maar ek neem aan hy het vir 13 maande sy astronomiese salaris gekry?

Mnr De Beer ·

Manie het sy kans gehad. Tyd dat hy saam Kolisi rus op die rusbankie. Net nou kry ons nog n URC finals mis skop gedoente. Tyd vir n ander spelers om te probeer pale toe skop.

Miena ·

Nou kom ons gee Pollie n kansie. As hy verbrou… dan moet ons maar vir Baas Naas oproep. (Op n ligter humoristiese noot). Nee andersins weet ek dan nie… Hulle moet dan maar n skopper by een van die Varsity spanne gaan haal.

Peter ·

Ek onthou hoe Pollard ook maar deur fases gegaan het waar hy laer as 50% skop. En ek onthou ook tye hoe sterker ouens soos Bundee Aki dwars deur hom gehardloop het. Pollard was laas in 2014 goed.

kragaap ·

Wel was dit “realisties” om wêreldbeker toe te gaan sonder ‘n skopper ?

piet ·

Watter beskikbare skopper sou jy voorstel wat ook goedgenoeg is om vir die Bokke te speel?

piet ·

Nee wat, ons verwag minstens ‘n 80% suksespersentasie anders kan Faf ook maar mis skop. Hy is mos nou in die span vir sy “akkurate” skopwerk soos almal vir ons vertel het.

Peter ·

As Pollard gespeel het, sou ons heel moontlik steeds verloor het. Hy sou moontlik een of albei die lang skoppe gemis het en sou nie ons drie soos Libbok kon bewerkstellig nie. Ons sou 13-9 of 13-6 verloor het. Verder sou Ierland moontlik nog driee teen ons gedruk het nadat Pollard doellose skoppe in Ierse teenaanvallers se kele afgeskop het. Al hoop is om Pollard op 12 te speel en hoop hy skop 80% oor om op te maak vir sy ander gebreke. Kies Pollard op 10 en ons is terug in die donker dae.

piet ·

Ek verstaan nie wat Nienaber se nie. As jy ‘n ou kies vir die Bokke moet hy mos 100% reg wees en aan al die vereistes voldoen. Daar’s nie tyd om nog in te speel nie, ons is in die middel van die RWB. Ons verwag dus dat Pollard onmiddellik moet perform gemeet aan al die standaarde…anders moes hulle liewers ‘n 100% fikse speler en topskopper (weet nie wie nie) van SA af laat kom het.

Peter ·

Nienamber gee in onder die druk van Pollard ondersteuners. As Rassie die groen liggie gebruik het in pleks van die oranje liggie, dan het ons sekerlik nog ‘n drie of twee gekry.

George ·

Doen die Bokke goed dan is dit Rassie, doen hulle sleg dan is dit Nienaber.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.