Wegholsege kan Argentyne vorentoe deurdra

arbDie Argentynse Vyftiental se wegholoorwinning Saterdag oor Brasilië kan hom vorentoe goed te pas kom in sy kop-aan-kop-wedloop met Amerika in die Amerikas-rugbykampioenskap.

Hy het die Tupis 79-7 verslaan in Ushuaia, Vuurland, die verste suid dat `n rugbytoets dusver gespeel is (rustyd 22-7).

In Saterdag se ander wedstryde in die reeks het Amerika 57-9 teen Chili in Santiago gewen (rustyd 17-6); en Uruguay het in Maldanado 17-13 met Kanada afgereken (rustyd 17-3).

Brasilië het aanvanklik sterk teenstand gebied en was selfs by geleentheid 7-5 voor, maar die Argentyne het hulle in die tweede helfte oorweldig en in totaal `n dosyn drieë gedruk.

Ná `n slordige eerste helfte het Amerika in die tweede helfte sy sake agtermekaar gekry en die Kondors oorweldig.

Die gewese Lions- en Goue Leeus-speler, Todd Clever (flank) het een van die Yanks se agt drieë gedruk.

Kanada het in die tweede helfte sterk teruggeveg, maar kon nie die agterstand uitwis nie.

Dis die eerste keer sedert 2002 dat Uruguay teen Kanada kon wen, en die uitslag plaas hom in `n goeie posisie om derde in die reeks te eindig, terwyl dit waarskynlik die nekslag vir die Kanadese was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.