Wegholseges in Goue Bekerreeks moet minder

goue-beker-320x226Spanne sal beter moet voorberei vir die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker sodat 2015 se mededingendheid herwin kan word.

Die reeks verdien dit.

Die 19 oorwinnings van 20 punte en meer uit 57 wedstryde (33%) in vanjaar se reeks om die Goue Beker voldoen nie aan die verwagtinge wat verlede jaar se hoogs mededingende reeks geskep het nie.

Die eerste twee reekse in 2013 en 2014 het elke keer 40% seges van dié omvang opgelewer (25 uit 62 wedstryde); en verlede jaar se verbetering tot slegs 24% (15 uit 62) het geweldig baie bygedra tot `n enorme opstuwing in die belangstelling en oënskynlik ook uitbouing van klubrugby.

Seker die grootste teleurstelling was die groot oorwinnings van 61-3, 52-19 en 40-12 in die kwarteindronde nadat die grootse oorwinning verlede jaar in dié ronde 34-26 was.

Die telling van 48-24 in die einstryd is ook die eerste keer in vier jaar dat dit met meer as twee punte gewen is.

Toegegee, nie al die spanne wat deelgeneem het, was die heersende kampioene in hul bonde nie. Die verskuiwing van die reeks van die begin van die seisoen na die einde daarvan het `n oorgangsfase geverg waarin die meeste bonde se 2015-kampioene in aanmerking gekom het.

Dit kan dalk die rede vir van die groot tellings in die groepfase wees, en twee van die spanne wat sleg slae in die kwarteind gekry het, was juis dié twee wat nie vanjaar die beste in hul bond was nie.

By `n klompie herontmoetings was daar `n dramatiese en baie bemoedigende verbetering. In 2013 het Brakpan 134-0 teen Witrivier gewen, Durbanville-Bellville 96-0 teen Welkom Rovers, en Pretoria Polisie 80-17 teen Bloemfontein Polisie. Vanjaar was die onderskeie tellings 38-12, 32-24 en 36-24.

In die geheel beskou, was die reeks weereens `n klinkende sukses en vertrou `n mens dat die toekoms daarvan verseker is. Saru, en bepaald die projekbestuurder, Duane Heath, en sy span, kan hulself op die skouer klop met wat bereik is.

Talle klubs het teenoor Pale Toe! opgemerk hoe beïndruk hulle met die seepgladde reëlings was.

Wyer vlerke

Die insluiting van Namibië en Zimbabwe se klubkampioene in die reeks is meer as geregverdig. Nie een was laaste in sy groep nie (Windhoek Wanderers was vierde uit vyf en Old Georgians derde), en slegs een van die groot oorwinnings is teen hulle behaal. Wanderers het 39-62 teen die uiteindelike kampioen, Rustenburg Impala, verloor; maar het op sy beurt Northam Rhinos 60-29 gelooi.

Dis dalk nie onvanpas om die kampioene van ander Afrikalande by die reeks in te sluit mits die geld daarvoor gevind kan word nie.

Jerome Paarwater, die Westelike Provinsie se bestuurder van hoëprestasie-klubrugby en hoofafrigter van Kenia se nasionale span, het aan Pale Toe! gesê hy glo die Keniaanse klubkampioen, Kabras Sugar, sou baie goed in vanjaar se reeks gevaar het.

“Die klub het `n paar spelers in die nasionale span sowel as in die Kenianse sewesspan. Hy het ook `n goeie borg, en Kenia se 15-manspan is hoër op die wêreldranglys as Zimbabwe.”

Kenia is tans 23ste en Zimbabwe 37ste.

Die volgende Afrikalande op die ranglys is Uganda (44ste) en Madagaskar (47ste). Die gehalte van hul klubrugby is onbekend, maar Kampala Old Boys (Kobs) het die Ugandese Premierliga die afgelope seisoen die 12de keer gewen; en rugby is die nasionale sport in Madagaskar waar die Departement van Gesondheid vanjaar die kroon by die Weermag afheneem het.

Namibië en Zimbabwe was in die dae van amateurrugby gewilde bestemmings vir klubtoerspanne uit Suid-Afrika, maar sulke besoeke het in die beroepsbedeling te duur geraak en van die toneel verdwyn. Danksy die Goue Beker kon SA spanne vanjaar weer rugbybesoeke aan dié buurstate ervaar.

Borgkommer

Nog iets wat kommer baar, is dat min van die klubs in vanjaar se reeks naamborge kon bekom.

Vanjaar het die meeste klubs al `n seisoen vooruit geweet hulle sal in die internasionale reeks speel en hulle kon steeds nie `n borg oortuig van die sigbaarheid daarvan nie.

Aanstaande jaar gaan daar nie tyd vir sulke onderhandelinge tussen die einde van die klubligas en die afskop van die Goue Bekerreeks wees nie.

Klubs sal potensiële borge al aan die begin van die jaar moet oortuig dat hulle die regte perd is om geld op te verwed.

Ligabepalings

Die uiteenlopende behoeftes van die onderskeie klubligas maak dit ook moeilik om die speelveld vir almal gelyk te maak.

Van die ligas eindig só lank voor die vlagskipreeks dat dit `n wesenlike probleem raak om spelers opgeskerp en gemotiveerd te hou.

Aan die ander kant moes die Bolandse kampioen op sy beurt sy titel eers ná `n uitmergelende Goue Bekerreeks gaan verdedig omdat die bond se uitspeelwedstryde eers daarna afgehandel kon word.

Dit sal by die onderskeie bonde berus om hul ligas so te skik dat hul kampioene nie in dié opsig benadeel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.