Wegholseges vir 4 SA breiers in Europese toetse

Kobus Potgieter – een van vier. (Foto: DRV)

Vier Europese nasionale spanne wat deur afrigters uit Suid-Afrika gebrei word, het Saterdag wegholseges in toetse behaal.

Boaan die lys is Kobus Potgieter, die hoofafrigter van Duitsland, wat die Brasiliaanse toerspan in Leipzig met 45-12 (rustyd 26-0) verslaan het.

In die reeks om die Rugby Europatrofee het die Kapenaar Gareth Gilbert se Nederlanders in Orhei, Moldawië, ʼn wegholoorwinning van 59-7 oor die tuisspan behaal (rustyd 26-7).

Gilbert het in sy speeldae Botswana en die gekombineerde Pan-Afrikaanse span, die Afrika-Luiperds, verteenwoordig, en Botswana se nasionale span later afgerig.

By Netanya se Wingate-instituut suid van Tel Aviv, Israel, het Kevin Musikanth, onder wie se afrigting die Ikeys die Varsitybeker gewen het, se Israeli-span met 44-8 teen Bosnië en Herzegovina in Afdeling 1 Suid van die Europese reekse gewen (rustyd 32-8).

Ciprus, wat deur Andrew Binikos afgerig word, het in Pathos, Ciprus, in Afdeling 2 Suid met 42-5 teen Oostenryk gewen (rustyd 21-0).

Binikos, die hoof van die Sharks se Suidelike akademie op Port Shepstone, het Curriebekerrugby vir die KwaZulu-Natallers gespeel, en toetsrugby vir Ciprus.

In die enigste ander toets Saterdag in die Europese reekse het Luxemburg tuis met 64-0 teen Estland in Afdeing 2 Noord gewen (rustyd 38-0).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.