Welwitschias maak kaptein, hulpafrigter bekend

Eugene Jantjies (Foto: NRU)

Die Namibiese Rugbyunie (NRU) het twee nuwe Welwitschia-aanstellings met die oog op vanjaar se Supersport-uitdaag- en die Curriebekerreeks bekend gemaak.

Eugene Jantjies, ʼn veteraan van 53 toetse, is die eerste keer as kaptein van die Welwitschias aangestel; en die gewese Bulls-senter JP Nel, sal die span se agterlyn help slyp.

Jantjies, wat in Gobabis gebore is en onder meer ses seisoene se klubrugby in Roemenië agter die rug het, het dermate ontwikkel onder die leiding van die nasionale afrigter, Phil Davies, dat hy hom as Namibië se eerste keuse op skrumskakel gevestig het.

Die mantel het op hom geval om die Welwitschias met die span se nuwe dinkrugby-benadering te lei.

As ʼn gewese Superrugby-speler voeg Nel aansienlike ervaring tot die afrigtingspan by. Hy rig ook die Windhoekse span Wanderers af, wat Namibië verlede jaar in die internasionale klubreeks om die Goue Beker verteenwoordig het.

JP Nel (Foto: NRU)

Luidens ʼn verklaring wat die NRU in Windhoek uitgereik het, sê Jantjies hy gee altyd 100% wanneer hy die land se trui aantrek, en hoop om die beste uit sy span te haal.

Davies, Namibië se rugbydirekteur, sê hy is ingenome met Jantjies se aanstelling.

“[Hy] is die afgelope klompie jare ʼn hegte spanlid. Hy is ʼn puik beroepspeler en dwing gesag by sy gelykes af. Sy aanstelling dui onteenseglik op die mate waarin hy as speler en leier gegroei het.”

Lyn Jones, die Welwitschias se afrigter, sê Nel is die beste uit ʼn paar buitengewoon sterk kandidate wat om die pos aansoek gedoen het.

“[Hy] sal ʼn nuwe stem en waardes indra by ʼn groep wat ná verlede jaar se uitdagings ʼn behoefte aan selfvertroue en bemagtiging het.”

Nel sê dit sal vir hom ʼn eer wees om die land se beste en belowendste spelers te help ontwikkel, en hy sal sy deel doen om te sorg dat die Welwitschias die beste kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.