‘Welwitschias oneindig beter as in April’

Lyn Jones (Foto: Verskaf)

Die Namibiese Welwitschias het sedert April vanjaar oneindig verbeter, maar só het elke ander span, sê die Namibiërs se Walliese afrigter Lyn Jones.

Pale Toe! het hom gevra in water mate die span in die eerste ronde van die Superportreeks aan sy verwagtinge voldoen het, en of hy ʼn koersaanpassing beplan.

Hy sê die span bou met die oog op die Curriebekerreeks in Augustus, en sal teen dan aansienlik mededingender wees.

Die afrigter het vroeër aan Pale Toe! gesê dit sal drie jaar verg voordat die Namibiërs met die voorste Suid-Afrikaanse provinsiale spanne kan saampraat.

Jones sê sake het grootliks verloop soos verwag is.

“Ons is nog nie goed genoeg om teen spanne soos die Goue Leeus, die Blou Bulle en die Pumas te speel nie.

“Hulle het uitstekende gevestigde spanne, en verbeter jaarliks teen vyf persent. Bloot om mee te ding, moet [die Welwitschias] met 20% per wedstryd groei. Daar wag baie werk op ons,” sê hy.

“Ek moet sê dat die spelers se houding tienvoudig verbeter het sedert die 100-tal wat ons teen die Leeus op die lyf geloop het.

“As ʼn speler wíl presteer, verbeter, sterker en fikser raak, ʼn beter verstandhouding opbou, dán pas hy in my kraam.”

Verloor helfte van spelers

Jones sê die span staan die helfte van sy spelers aan die Namibiese toetsspan af, wat aanstaande week om die Nasiesbeker in Montevideo, Uruguay, speel.

“Die eerskomende drie weke sal dus strawwer wees, maar bied ʼn goeie geleentheid om ander spelers dop te hou en die groep se diepte uit te bou.

“Niks verander nie, behalwe die kultuur en verhoogde fiksheid. Rugby is eenvoudig.

“Ons vorder, die spelers gee gehoor; ons het ʼn plan, sukses het ʼn plan.”

Ter bevestiging van sy vasbeslotenheid om sy verklaarde koers te hou, haal Jones ʼn vorige Britse eerste minister, Margaret Thatcher, se beroemde woorde aan toe in die jare tagtig van haar verwag is om die liberalisering van die land se ekonomie om te keer: “The lady’s not for turning”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.