Wen eers voor jy grootpraat…

SA RUGBY logoGeagte oom Fikile,

Ek het vanoggend  aan heelparty verskonings gedink om die skuld op iemand anders te pak nadat Bafana Bafana (die soveelste keer) die bus op die Afrikabekertoernooi verpas het.

Ek het Nommer Een se boekie van verskonings uitgehaal, ek het ook by Jan van Riebeeck gedraai,  ek het aan apartheid gedink, beurtkrag, kwotas, die Guptas, dalk het Bra Shakes of van die ander afrigters draaie oor hul kwalifikasies gemaak, maar toe kom ek tot die slotsom dat Bafana die toernooi reeds gewen het nog voordat hulle daarin gespeel het.

Krieket en rugby se Wêreldbekerbekertoernooie lê voor en ek is seker u en `n groot afvaardiging gaan in Australasie” en Engeland opdaag.  Moet my nie verkeerd verstaan nie, u is straks die mees passievolle minister van sport, is gewild en ons sport lyk van buite af kerngesond. Dink maar aan die vertonings van AB de Villiers, Dale Steyn, Hashim Amla, Chad le Clos, Bryan Habana, Duane Vermeulen, Branden Grace, Kevin Anderson en die Springbokke – veral die sewesspan.

Praat hulle groot voor toernooie? Nee, meneer, hulle is diplomaties en beskeie. Hulle doen hulle ding op die veld en praat nie vooraf oor hoe hulle hul teenstanders sal “moer” nie –  in u eie woorde. Die ou mense het altyd gesê: moenie die beer se vel verkoop voordat hy geslag is nie, of so iets.

AB, Hashim, Kyle Brown en Jean de Villiers het dit die afgelope ruk (a-la Richie McCaw) al hoe meer toegepas en nog gewilder geword.  Kyk maar hoeveel duisende ondersteuners het na die Proteas en Bokke se krieketwedstryd gaan kyk.

Selfs wanneer hulle `n toets met 40 punte wen of hul teenstanders met tien paaltjies of 100 lopies klop, sê hulle hoe taai dit was en gee erkenning.

Om opwarmwedstryde te wen, is soos om jou suster te soen; om vir `n toernooi te kwalifiseer, is net die eerste treetjie na roem.

My groot vraag is: Wanneer, en óf sokker se grootbase (soos rugby al hoeveer keer moes doen)  moet gaan verduidelik waar dinge verkeerd geloop het. Jinne, om nie eens vir die uitkloprondes te kwalfiseer nie (al was Bafana ook in die sogenaamde groep van die dood) is mos net die goed genoeg nie.

Ek het dit al hoeveel keer vantevore geslê: toe die Bokke in 1995 die Wêreldbekertoernooi gewen het, was die afrigter, Kitch Christie, se eerste woorde: Nou moet ons plat op die aarde bly.

Pas dit asseblief in sokker toe.

Hoogagtend,

Pieter K

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Pieter, erkenning vir die goeie stuk wat jy hier opgedis het.
Ek moet egter byvoeg dat die sokkerspan se afrigter/ spanbestuur al by geleentheid moes gaan verduidelik het.
Ek kan my so al verbeel dat die probleem toe voor die deur van die afrigter gelos is en aangevoer is dat die spelers nie sy taal kon verstaan nie. En hy nie hulle tradisies nie.
Dis nou natuurlik om laat op te daag vir oefeninge en glad nie deel te neem aan opwarm wedstryde nie. En dat fiksheid nie noodsaaklik is nie, en dat dit lekkerder is om op die gras te le en die hemel te le en bekyk.
Daar is toe ook inderdaad besluit dat die regering onmiddellik meer geld bewillig vir ontwikkeling van sokker.
Geld wat rugby en krieket nog nooit gekry of van gehoor het nie. Maar waaroor hulle al ernstig aangespreek is, omdat hulle nie genoeg van hulle miljoene aan die ministers afstaan nie en omdat hulle nie genoeg van hulle miljoene in ontwikkeling van agtergeblewenes bele nie.
Geld wat atletiekbase ook nie gekry het nie en so ook nie die swemspan nie.
Ongeag die feit dat atletiek spog atlete oplewer en swem die medaljes laat in vloei tydens wereldbyeenkomste.
Let wel WERELD byeenkomste en nie eens net Afrika kompetisietjies nie……

Vic ·

Die Geagte Oom daag wel by die rugby op, maar is o so vreeslik besig op sy ipad. N belangrike man. Die probleem met Bafana is nie die kwotastelsel nie, dis die gebrek aan n kwotastelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.