Wen in Kiwiland: Wat lê tussen vyf jaar se doen en sê?

rickie_januarie_try[1]

Vyf jaar gelede het ‘n Springbokspan die Dunedin-spook begrawe. Die span, onder leiding van Victor Matfield en afgerig deur Peter de Villiers, het vir een van die grootse verrassings in die destydse Drienasietoernooi gesorg toe hulle die All Blacks teen alle verwagting in met twee punte (28-30) gewen het en so die weg gebaan het om in die Nieu Seelanders se agterplaas te gaan wen.

Wie kan die verrassingslopie van Enrico Januarie vergeet hier in die doodsnikke van die wedstryd, toe hy ‘n volmaakte lugskoppie oor die koppe van drie spelers geskop, die bal in sy broodmandjie geland het en hy teen volspoed kon oorval vir die wendrie.

Met hierdie stukkie individuele briljantheid het Januarie nie net Peter de Villiers se kop van die blok gered nie, maar gesorg dat die destydse afrigter van die All Blacks, Graham Henry, moes erken dat sy span deur ‘n beter, ervare een gewen is.

“Hulle het goed gespeel,” was al wat ‘n teleurgestelde Henry op ‘n perskonferensie kon uitkry. “Ons moet dit op die ken vat en net verbeter van hier af.”

In daardie stadium het die All Blacks ‘n wêreldrekord gehou vir 30 agtereenvolgende tuisoorwinnngs oor ‘n periode van vyf jaar.

Matfield se span het onder die strafskoppe van die skeidsregter, Matt Goddard, deurgeloop. Goddard het enige vat naby die nek as verbode terrein gesien en ruimskoots strafskoppe uitgedeel vir en teen die Bokke. Daar was 33 straf- en vryskoppe.

Na die wedstryd is Bismarck du Plessis uitgewys vir ‘n oortreding wat verband hou met die verbod om met die oog-area kontak te maak. Die slagoffer was Adam Thompson, maar die grootste kontroversie van die wedstryd het gekom nadat Ali Williams in die 13de minuut ‘n kopskoot gekry het en die veld moes verlaat.

Daarna het die All Blacks se skrum net een pad geken: agteruit.

Bakkies Botha en Voctor Matfield se gekombineerde 122 wedstryde het die Bokvoorspelers die geleentheid gegee om elke faset van die spel te oorheers.

Die All Blacks het duidelik aan bomskok gely en die naaste wat hulle aan die Bokpale gekom het, was die onsuksesvolle skepskoppe wat hulle laat reën het.

Met rustyd was die telling 15-17 en die spanpraatjie in die kleedkamer het vir die All Blacks gewerk. Met die telling op 23-25 en na die soveelste waarskuwing van Goddard het Kaptein Fantasties, Victor Matfield, die argwaan van die skeidsregter gevoel en vir tien minute gaan afkoel.

Carter het die strafdoel behaal en met ses minute oor en sy persoonlike bydrae van 23 punte, het die tuisspan gemeen dat hierdie een in die sakkie is: 28-23.

Dis toe dat die ander kontroversie, naamlik die insluiting van Enrico Januarie, vir hom en die span vrugte afgewerp het.

Januarie het die na sy lugskoppie die bal op volspoed gevang en oorgeval vir die wendrie.

Die res is geskiedenis. Peter de Villiers het sy joppie behou en die Bokke het die wendroogte in All Blackland deeglik gebreek.

Hierdie lekker stukkie geskiedenis staan tussen die span van 2013 en die magtige Silwervarings.

Hul voorgangers het gewys hoe. Jean de Villiers se Bokke se paadjie is uitgekap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.