In ʼn wending in die drama rakende Grens se deelname aan die Supersportreeks word verneem dat sy wedstryd Sondag teen Boland in Port Elizabeth voortgaan.
Daar was aanvanklik groot onsekerheid hieroor in die lig van die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) se aansoek dat die Grens-rugbyunie op grond van agterstallige mediese en pensioendekking gesekwestreer word.
Die onsekerheid het Vrydagoggend nog voortgeduur.
Hoewel die aansoek Dinsdag voorlopig toegestaan is, is Vrydag verneem dat Sarpa dit teruggetrek het.
Die geld is glo gevind om alle agterstallige bedrae aan te suiwer.
Die afskop op die Wolfsonstadion in Kwazakhele, Port Elizabeth, is vir 12:30 Sondag bepaal.