Wentzel se wenstrafskop laat Shimlas skitter

Die Shimlas is die Varsitybeker-kampioenspan van 2024. (Foto: Frans Lombard/Actonpix)

Toeskouers het Maandagaand in Bloemfontein hul selfone uitgepluk toe Ethan Wentzel in die 84ste minuut van die Varsitybeker-eindstryd agter die skopkelkie aangetree het – wie weet; dalk vang jy net ʼn tikkie studenterugbygeskiedenis op jou slimfoon vas.

Wentzel het nie teleurgestel nie en die Shimlas het die Ikeys met 45–42 in ʼn titaniese finale wedstryd om die silwerware geklop.

Dit is die tuisspan se eerste titel sedert hy die NWU-Pukke in 2015 met 63–33 op die einste Shimla-park oordonder het.

Tog was dit die Ikeys wat nou ʼn wegholveldbrandaanloop tot die wedstryd geniet het.

Die Ikeys het vyf drieë in die wedstryd gedruk. (Foto: Frans Lombard/Actionpix)

Keagan Blanckenberg en Jonathan Roche het twee vinnige drieë gedruk voordat Jandré Nel en Liyema Mgwigwi vir die tuisspan teruggeslaan het.

Teen rustyd het die Kaapse studente egter steeds ʼn rustydvoorsprong van 31–26 geniet.

Die tweede helfte was ook ʼn aksiebelaaide affêre en die Ikeys kon die wedstryd vóór die dramatiese einde in die sakkie gehad het as Ntokozo Makhaza se doelskoppoging in die kol was.

Maar met die telling op 42-elk was die tafel gedek vir Wentzel se heldedade.

Hy het met sy regtervoet laat waai, die bal oor die dwarslat gejaag en sy arms triomfantelik in die lug gehou.

ʼn Kort rukkie later het hy saam met honderde Shimlas-ondersteuners op die veld feesgevier.

Nel, wat ʼn deurslaggewende drie in die tweede helfte vir die tuisspan gedruk het, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Shimlas-ondersteuners vier Wentzel se suksesvolle strafskoppoging. (Foto: Frans Lombard/Actionpix)

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Jandré Nel (2), Liyema Mgwigwi (2), Ethan Wentzel en Siviwe Zondani. Doelskoppe: Wentzel (4). Strafskop: Wentzel.

Ikeys: Drieë: Keagan Blanckenberg, Jonathan Roche, Rethabile Louw, Duran Koevort en Bryan le Roux. Doelskoppe: Ntokozo Makhaza (3). Strafskoppe: Makhaza (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Allop ·

Allop
Seker die beste rugbywedstryd in n lang tyd op Suid-Afrikaanse bodem
Wel gedaan aan Shimlas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.