‘Wêreld se allerbeste skrumskakel’ by Villagers

Dis ʼn grootse vangs dié wat Villagers gemaak het van die man wat deur baie as die allerbeste skrumskakel in die geskiedenis van wêreldrugby beskou word.

Met die klubrugbywedstryde op die agtergrond tydens die afgelope Paasnaweek, is die groot nuus aan die klubfront dat die legendariese Walliese skrumskakel Gareth Edwards (deesdae sir Gareth) op 11 April as spreker by die Villagers-klubhuis in Brookside optree.

Edwards het van 1967 tot 1978 in 53 toetse vir Wallis en tien vir die Britse en Ierse Leeus gespeel.

Hy was twee keer (1968 en 1974) saam met die Leeus in Suid-Afrika, en was die spil waarom laasgenoemde gedraai het toe hy die eerste Leeuspan in 78 jaar was om Suid-Afrika in ʼn toetsreeks te klop.

Die klub se opwindende Springbok-heelagter van die laat jare sestig, HO de Villiers, sal insgelyks die woord voer, en van Villagers se ander oud-Bokke sal die geleentheid bywoon.

Kaartjies is beperk en kan teen R500 elk (ete en tafelwyn ingesluit) by Kim du Plessis by [email protected] bekom word.

♦ Klubrugby word ná die Paasblaaskans in alle erns hervat, met verskeie bonde se ligas wat Saterdag eers ʼn aanvang neem.

Die uitsondering is die ligas van die Westelike Provinsie en die Boland wat vanweë die waterskaarste in dié geweste eers later sal begin speel.

ʼn Opvallende verandering is die wegval van die gebruiklike klubdag op Kingspark waarmee die KwaZulu-Natalse Premierliga die afgelope klompie jare ingelui is. Die eerste wedstryde word vanjaar op die klubs se velde gespeel.

♦ Die WP-klubs hou hulle darem sover moontlik met vriendskaplike wedstryde besig, en danksy die bond se jongste klubnuusbrief volg hieronder ʼn klompie uitslae. Dit lyk of die Bolandse klubs merendeels beter gevaar het.

Uitslae –

St. Helenabaai (Boland) 41, Hamlets 21; Franschhoek 41, Good Hopes (Boland) 7; Macassar 31, Botrivier (Boland) 27; Ceres (Boland) 66, Goodwood 27; Kalbaskraal Coronations (Boland) 30, Hands & Heart 15; Rocklands 29, De Doorns (Boland) 19; Genadendal (Boland) 28, All Saints 22; Gold Stars (Boland) 35, Golden Leopards 29; Grabouw (Boland) 29, Helderberg 14; Moorreesburg (Boland) 73, Kraaifontein 7; Never Dispair (Boland) 42, Kuilsrivier 38; KSUT-Tuine 24, Newtons (Boland) 17; Wolseley (Boland) 31, Stellenbosch Coronations 6; Kylemore 53, Rangers 28.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rollie ·

Joshua, jy het duidelik nie vir Edwards in aksie gesien nie. Joost was groter en sterker en dalk ‘n beter verdediger maar in elke ander opsig was Edwards beter. Voorwaar die beste skrumskakel ooit. So terloops, dis Villager nie Villagers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.