Wêreld se beste het deur pyndrempel gespeel

Springbokke-vs-AllBlacks-Aksiefotos-GBJordaan-Victor-Matfield-013

Duane Vermeulen – altyd by om te help soos hier vir Victor Matfield (Foto: GB Jordaan)

Die wêreld se beste losvoorspeler het Saterdag deur die pyn gespeel in `n toets waarin ons ook die geboorte van twee nuwe Springboksterre gesien het.

“Daar was geen manier waarop ek `n toets teen die All Blacks sou misloop nie, al het dit beteken dat ek `n inspuiting voor die wedstryd moes kry,” het Duane Vermeulen gesê. En op die nuuskonferensie het hy met `n laggie bygevoeg dat hy steeds niks voel nie – wat `n mens laat wonder wanneer hy wel iets voel!

“Duane is `n ongelooflike krygsman. Ek het voor die tyd gesê as hy wil speel, moet dit vir 80 minute wees. Hy het gesê hy is gereed. Daar was `n stadium toe ek hom wou vervang, maar hy het laat weet hy is reg vir nog 30 minute,” het Heyneke Meyer gesê.

Vermeulen het gesê dit was `n moeilike rustydbesluit om verder te speel.

Ná `n jare lange soektog het die Springbokke nou ook twéé losskakels van wêreldgehalte in Handré Pollard en Pat Lambie.

“Ons het uiteindelik die volledige vertoning deur twee losskakels gesien – ons moet nou net besluit wanneer wie van hulle speel.

“In terme van fisiekheid, wedstrydbestuur, verdediging en veelsydige spel het twee baie goeie, jong losskakels na vore getree.”

Meer druk as `n skop van 55 meter wat wen of verloor sal beteken kan daar nie op `n speler wees nie, en Lambie het getoon hy kan die ysman wees wanneer omstandighede daarom vra.

Daardie strafskop teen Messam – wat in elke ander wedstryd `n geelkaart sou gewees het – is heeltemal deur die skeidsregter en sy drie assistente oorgesien. Dit was net die tussenkoms van Jean de Villiers – en die reaksie van Ellispark se skare! – wat Wayne Barnes genoop het om die hoogvat weer op video te bekyk voordat hy, skynbaar half onwillig, toegegee het.

Vroeër het De Villiers hom daarop gewys dat die All Blacks by `n vinnige strafskop naby hul doellyn nie tien meter teruggeval het nie, maar toe het Barnes dit met `n skouerophaling geïgnoreer.   Die voormalige Bok-afrigter Nick Mallett was ook vol lof vir Meyer en sy dapper besluit om Pollard vir die toets in Nieu-Seeland te kies.

“Hy het ook teen die Aussies goed gespeel, terwyl Lambie `n groot impak gemaak het toe hy opgekom het,” het Mallett gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.