Wêreld se beste sewesspan sit sonder ʼn borg

Dis amptelik: Die wêreld se beste sewesspan sit sonder ʼn borg.

Die SA Rugbyunie (Saru) het Maandag bevestig – wat geruime tyd al voorsien is – dat Steinhoff International hom laat weet het dat hy (Steinhoff) hom aan alle borgskappe onttrek.

Dié maatskappy, wat finansieel kwaai getref is deur bewerings van boekhouwanpraktyke, het onder meer die Blitsbokke, die wenner van die vorige Wêreldsewesreeks, geborg.

ʼn Mens vertrou dat dié vals noot op die dag dat die Saru-kantoor ná die vakansiereses heropen, nie ʼn voorbode is dat die 2018-seisoen sy wysie gaan verloor nie.

Jurie Roux, Saru se hoof- uitvoerende beampte, sê hulle kyk reeds na ʼn alternatief, en ʼn mens wil hoop dat die Blitse se hoogstaande vertoning deur ʼn nuwe borg aangegryp sal word.

Benewens die 2017-2018-wêreldreeks wat einde Januarie in Sydney, Australië, voortgesit word, verdedig die Blitse middel April ook hul Statebondstitel aan die Australiese Goudkus, en mik in Julie na die Wêreldsewesbeker in San Francisco, Kalifornië.

Die nuus kon kwalik op ʼn slegter tyd kom – of dalk op ʼn beter tyd vir ʼn nuwe borg.

♦ Intussen het die organiseerders van die Varsitybekerreeks (waar Steinhoff die tweedevlakborg was) bevestig dat dié reeks soos beplan sal voortgaan, en daar hard gewerk word om ʼn plaasvervanger vir Steinhoff te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.