‘Wêreld se hardste rugbyspeler’ sterf

Martin Pelser sak toe op die 1960-All Blacks se skrumskakel, Kevin Briscoe.

Martin Pelser, die man wat deur die grote Colin Meads in die beste vyftiental gekies is teen wie hy ooit gespeel het, is die week oorlede. Hy was 84.

Pelser het in Mei ʼn beroerte gehad en was sedertdien baie siek.

Ek het in 1995 by ʼn informele onthaal by Roodepoort Rugbyklub die voorreg gehad om saam met Pelser en Meads te staan toe hulle oor die ou dae en spesifiek daardie toetsreeks teen die All Blacks in 1960 gesels het.

“He must be the hardest man who has played the game,” het Meads vertel.

Meads het dié aand die meeste van die praatwerk gedoen, en eintlik is die geselsie tussen die twee deur Meads gebruik om my in te lig hoe Pelser hulle in die 1960-reeks verpes het.
Hy het hulle lynstane ontwrig, spelers vasgehou, omgekeer … ondanks ʼn All Black wat spesiaal aangewys is om Pelser van hulle weg te gou; en Pelser het die arme klein Kevin Briscoe, die All Blacks se skrumskakel, al sy dae gegee, het Meads vertel.

Boonop was Pelser se vurige spel in die wedstryd self, sy vaart in die los en inklimrugby by die afbreekpunte iets ysliks, onthou ek van dié toets (die eerste wat ek bygewoon het) en ook van die provinsiale wedstryde waarin ek Martin later sien speel het.

Pelser het, soos hy is, maar net gestaan en luister, geglimlag en hier en daar gelag of iets te sê gehad terwyl Meads oor hom en daardie reeks gepraat het.

Martin Pelser het gespeel soos hy geleef het: stil, reguit, eerlik en, op ʼn positiewe manier, onopvallend.

Soos sy seun Franna het hy ook vir Roodepoort afgerig, en selfs op sy oudag nog by sy klub kom rugby kyk.

♦ Hoewel Pelser net een oog gehad het, het sy vurige en toegewyde spel die indruk gewek dat dit hom hoegenaamd nie pla nie.

Martin Pelser het Suid-Afrika van 1958 tot 1961 in 11 toetse as flank verteenwoordig: die eerste in 1958 teen die Franse; al vier teen 1960 se All Blacks; teen Wallis, Ierland en Frankryk op die 1960-61-toer na Brittanje en Frankryk; die toets teen Ierland, en albei teen Australië in 1961 in Suid-Afrika.

Pelser het twee toetsdrieë gedruk. Sy eerste, in die vierde toets teen Nieu-Seeland in 1960, het die Springbokke in staat gestel om die toets met 8-3 te wen, en sodoende die reeks te beklink. Sy tweede was in die eerste toets teen die Wallabies van 1961, wat die Bokke met 28-3 gewen het.

Hy het op die Europese toer ook in 15 gewone toerwedstryde gespeel, en vier drieë gedruk.

ʼn Knie- en ʼn enkelbesering het hom uit die toetse teen Engeland en Skotland gehou, en die weg vir Frik du Preez gebaan om sy toetsbuiging te maak.

Danie Craven sê in sy Legends of Springbok Rugby 1889 – 1989 Pelser was ʼn te groot heer om op die veld skoor te soek, maar het nie gehuiwer om die vuis in te lê as hy uitgelok is nie.

Hy bestempel Pelser as een van die beste losvoorspelers van alle tye – “sterk, vinnig en met ʼn wonderlike voorgevoel”.

Hy het die toenmalige Transvaal van 1955 tot 1961 in 51 wedstryde verteenwoordig, voordat hy hom by die destydse league-reeks (die 13-manspel) in Suid-Afrika aangesluit het.

Die streng reëls oor beroepsrugby wat toe gegeld het, het verseker dat hy nie weer rugby kon speel nie.

Pelser het sy klubrugby vir Rand Leases gespeel, die huidige Roodepoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.