Wêreldbeker begin oor 100 dae

Tendai Mtawarira met die Webb Ellis-trofee in Frankryk. (Foto: Twitter/Rugby World Cup France)

Dit is presies 100 dae voordat Frankryk teen die All Blacks in die eerste wedstryd van die Wêreldbeker-toernooi speel.

Suid-Afrika se Tendai “Beast” Mtawarira is Dinsdag op die Charles de Gaulle-lughawe deur Bill Beaumont (Wêreldrugby-voorsitter) en Jacques Rivoal (toernooi-voorsitter) ingewag.

Die amptelike feesvieringe in aanloop tot die internasionale skouspel begin vandag en die voormalige Springbok-stut, wat in 2019 die Webb Ellis-trofee saam met Siya Kolisi en kie in Japan omhoog gehou het, het die silwerware aan die gasheerland oorhandig.

Mtawarira gaan die ikoniese rugbytrofee op ʼn toer deur Parys vergesel. Hy sal onder meer ʼn draai in Montmartre maak voordat hy die beker onder groot fanfare op die Arc de Triomphe sal plaas.

Dié reusagtige triomfboog in die Champs-Élysées is destyds in opdrag van Napoleon Bonaparte gebou om sy oorwinning in die Slag van Austerlitz te herdenk.

Die Springbokke sal egter duim vashou dat die huidige Franse regering nie iets soortgelyks vir sy rugbyspan ná afloop van die toernooi sal oprig nie.

Die Hane is immers baie ontleders, oudspelers en ondersteuners se gunstelingspan om met die louere weg te stap.

Benewens die openingswedstryd teen die All Blacks, kan Antoine Dupont-hulle ʼn makliker pad na die uitspeelrondes volg wanneer hulle teen Italië, Uruguay en Namibië te staan kom.

Die Springbokke moet egter op hul heel beste wees: Kragmetings teen Ierland en Skotland is glad nie die maklikste uitdaging in wêreldrugby nie.

Daar word na raming 600 000 internasionale besoekers – ʼn nuwe Wêreldbeker-rekord – verwag wanneer die toernooi in September begin. Die kaartjies, 2,5 miljoen om presies te wees, is ook al lank reeds uitverkoop.

  • Wêreldbeker-groepe:

Groep A: Nieu-Seeland, Frankryk, Italië, Uruguay en Namibië.

Groep B: Suid-Afrika, Ierland, Skotland, Tonga en Roemenië.

Groep C: Wallis, Australië, Fidji, Georgië en Portugal.

Groep D: Engeland, Japan, Argentinië, Samoa en Chili.

  • Bepalings (8 tot 15 September 2023):

8 September: Frankryk teen Nieu-Seeland

9 September: Italië teen Namibië, Ierland teen Roemenië, Australië teen Georgië, Engeland teen Argentinië

10 September: Japan teen Chili, Suid-Afrika teen Skotland, Wallis teen Fidji

14 September: Frankryk teen Uruguay

15 September: Nieu-Seeland teen Namibië.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.