Wêreldbeker: Het All Blacks voete van klei?

Ian Foster. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Dit sal dwaas van enige rugbykenner wees om ʼn All Black-rugbyspan te onderskat, maar niemand sal hom of haar skeef aankyk as daar voorspel word dat die Nieu-Seelanders reeds in die kwarteindronde van vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk uitgeskakel kan word nie.

Die All Blacks se swak punte is verlede Vrydagaand op Twickenham in Londen deur die Springbokke blootgelê toe hulle met 7 – 35 afgeransel is.

Vergeet maar daarvan dat dit die regte medisyne was, dat die All Blacks baat daarby sal vind.

Nee, dit was ʼn klad op hul naam; die grootste nederlaag in 102 jaar sedert die eerste toets in 1921 tussen die twee rugbyreuse plaasgevind het.

Die All Blacks, wat jare lank die toonaangeër in wêreldrugby was, wat in 1987, 2011 en weer in 2015 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, wat 20 keer sedert 1996 baas was in die Drienasies, Viernasies en Rugbykampioenskap, boer die afgelope paar seisoene agteruit.

Daar word allerweë gesê dat Ian Foster ʼn swak afrigter is, dat Sam Cane nie ’n besielende kaptein is nie, dat die All Blacks nie by die Bokke se fisieke spel kan kers vashou nie, dat hulle in die lynstane erg kwesbaar sonder Brodie Retallick is, dat hul voorrye nie sterk genoeg is nie, dat hul dissipline in belangrike wedstryde tekort skiet en dat hulle inplof wanneer hulle onder druk geplaas word.

Die Bokke het aan die Franse ʼn bloudruk gegee hoe om die All Blacks in die openingswedstryd van vanjaar se WB-toernooi te klop.

Foster, wat in 2020 as hoofafrigter in Steve Hansen se plek aangestel is, het reeds nege keer in 37 toetse verloor.

Hy spog met ’n wenpersentasie van 70%, ongehoord in Nieu-Seelandse rugby. Vergelyk dit met Hansen (87%), Graham Henry (85%), John Mitchell (82%) en John Hart (76%).

Dit sluit boonop ʼn eerste nederlaag in teen Argentinië (2020), ʼn eerste nederlaag teen Ierland en ʼn eerste reeksnederlaag teen Ierland (in 2022) in Nieu-Seeland en dan ook Vrydagaand se rekordnederlaag teen die Springbokke.

Die All Blacks is boonop vierde op die wêreldranglys.

Foster het voor sy aanstelling as hoofafrigter ook nie by die Chiefs in die Superrugbyreeks oortuig nie.

Hy was aanvanklik net een van Hansen se assistente, om na agterspel om te sien, waar hy baie goed gevaar het.

Die All Blacks het in daardie tyd met 93 oorwinnings in 108 toetse gespog en net tien keer verloor.

Maar na Hansen se uittrede is Foster as hoofafrigter aangestel en dinge het begin verkeerd loop.

Hy weet ook reeds dat Scott Robertson by hom gaan oorneem.

Die All Blacks ding vanjaar saam met Frankryk, Italië, Namibië en Uruguay in Groep A mee. Dit kan verdere olie op die vuur wees, want jy moet jou beste span warm hou, maar gaan jy hulle teen Namibië, Italië en Uruguay loslaat?

Die All Blacks sal feitlik vir seker saam met die Franse tot die kwarteindronde deurdring waar hulle teen of die Bokke of Ierland sal speel.

Op wie sal jy jou geldjies waag?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.