Die Iere het Saterdagaand in Nantes die tafel gedek vir volgende Saterdagaand se watertand-tweestryd in Groep B van vanjaar se Wêreldbekertoernooi teen die Springbokke toe hulle Tonga met 59 – 16 afgeransel het.
Maar wie gaan by die hooftafel aansit?
Gaan die Iere ook in staat wees om die fisieke Bokke en die Bomb Squad (plaasvervangersbank) in toom te hou?
Die Iere pak die Bokke in die Stade de France in Parys om te bepaal watter span eerste in Groep B van vanjaar se Wêreldbekertoernooi sal eindig.
Die Iere, wat 12 drieë in hul openingswedstryd teen Roemenië gedruk het, het weer groot indruk gemaak deur dit met agt drieë teen Tonga op te volg.
Die Iere speel teen ʼn vinnige tempo, het ʼn rotsvaste verdedigingspatroon, gooi die bal rond, hanteer baie goed, is baie goed afgerig, vaar goed in die vaste fasette en het goeie dissipline, hoewel Peter O’Mahony ʼn geel kaart teen Tonga gekry het.
Dit was ook ʼn goue dag vir die veteraan-losskakel Johnny Sexton, toe hy Ronan O’Gara se Ierse rekord as die voorste puntemaker in toetsrugby verbygesteek het.
Sexton, wat oudergewoonte die argitek van die Iere se kookwater-agterspel was, het 16 punte aangeteken voordat hy met rustyd deur die afrigter, Andy Farrell, met Ross Byrne vervang is.
Sexton het nou in 115 toetse 1 090 punte aangeteken en O’Gara se vorige rekord van 1 083 punte in 128 toetse uit die rekordboeke gevee.
Tonga, wat met vier All Blacks (Salesi Piutau, Malakai Fekitoa, Augustine Pule en Vaea Fifita) vir die WB-toernooi versterk is weens Wêreldrugby se verslapping van die verblyfkwalifikasies, het geen antwoord gehad vir die Iere se hoë tempo en wurgspel nie.
Hulle het ook seker gemaak dat Piutau, wat allerweë saam met Cheslin Kolbe, Damian Willemse en Darcy Graham as die beste systappers in wêreldrugby beskou word, aan bande gelê word.
Wanneer die Iere die bal op Piutau geskop het, het een van die twee vleuels, James Lowe of Mack Hansen, druk op Piutau geplaas. Piutau het hulle met gemak met flink systappe geklop, maar hom dan teen ʼn tweede linie van drie verdedigers vasgeloop.
Die Iere het Tonga in die vaste fasette gewurg en seker gemaak dat hul besit nie op die voorvoet was nie.
Die Ierse slotte Tadgh Beirne en James Ryan was uitstekend en die voorry het stewig geskrum.
Die Ierse losvoorspelers, Josh van der Flier, O’Mahony en Caelan Doris, het die Tongane se besit vertraag en druk op die losskakel William Havili gesit… net soos die Bokke in die kragmeting met Skotland gedoen het toe Finn Russell gewurg is.
Die Ierse binnesenter Bundee Aki was ook skitterend op dreef en het male sonder tal oor die voordeellyn gekom. Hy was beslis nie net ʼn stormram nie en het twee drieë met sy groot vaart gedruk.
Maar die groot ster was die 38-jarige Sexton.
Kry die Bokke dit reg om hom aan bande te lê, is die stryd halfpad gewonne, maar word hy toegelaat om die toutjies te trek, kan dit donker vir die Bokke raak.
Ierland 59 (31): Drieë: Bundee Aki (2), Tadhg Beirne, Caelan Doris, Mack Hansen, Johnny Sexton, James Lowe, Rob Herring. Doelskoppe: Johnny Sexton (4), Ross Byrne (4). Strafdoel: Sexton.
Tonga 16 (13): Drie: Vaea Fifita. Doelskop: William Havili. Strafdoele: Havili (3).
A record-breaking evening!
Watch all the best action from Ireland v Tonga#RWC2023 | #IREvTGA pic.twitter.com/nbo8cqxW5I
— Rugby World Cup (@rugbyworldcup) September 16, 2023