Wêreldbeker: loting hou vir Bokke min goeie nuus in

Vir die Springbokke sal aanstaande Woensdag se loting vir die 2019-Wêreldbekertoernooi in Japan weinig goeie nuus inhou.

Die loting word in die Kyoto Staatsgastehuis in Tokio gedoen, en verlede jaar se Springbokvertonings, gebou op verskeie pilare van onbekwaamheid, sal in 2019 steeds – en selfs éérs – gevoel word.

Die Springbokke, wat onder die afrigter Allister Coetzee van derde na sewende, hul laagste plek nóg op Wêreldrugby se ranglys, getuimel het, sal in hulle groep teen een van die vier voorste lande, Nieu-Seeland, Engeland, Ierland of Australië, te staan kom.

Die 12 spanne wat outomaties gekwalifiseer het omdat hulle in die eerste drie van hul groepe by 2015 se Wêreldbekertoernooi was, is in drie vlakke ingedeel.

Hierdie vlakke is bepaal na gelang van hulle plekke op die huidige wêreldranglys:

Vlak 1: Nieu-Seeland, Engeland, Australië, Ierland
Vlak 2:  Skotland, Frankryk, Suid-Afrika, Wallis
Vlak 3: Argentinië, Japan, Georgië, Italië

Een span van elk van die bostaande vlakke sal deur loting in ʼn groep ingedeel word sodat elke groep ʼn span van vlak een, twee en drie sal hê.

Nog twee spanne sal later deur loting aan elke groep toegedeel word wanneer die kwalifiserende kompetisies afgehandel is.

♦  Suid-Afrika, omdat hy in vlak twee ingedeel is, sal dus teen een van die topvier, Nieu-Seeland, Engeland, Australië of Ierland, in sy groep moet speel. Die Springbokke sal soos hierbo uiteengesit ook teen een van vlak drie se spanne en teen twee van die kwalifiseerders speel – dus vier groepwedstryde.

Argentinië is in vlak twee. Dit sal darem nie lekker wees as die loting bepaal die Springbokke moet teen Nieu-Seeland én Argentinië (plus twee kwalifiseerders) in die groepfase speel nie!

♦  Suid-Afrika het die afgelope twee jaar teen drie van die spanne in vlak drie verloor, t.w. Japan, Argentinië en Italië.

♦  Die kompetisie duur van 20 September 2019 tot 2 November, wanneer die eindstryd gespeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MM ·

Wat maak die loting saak? As hulle goed genoeg speel, behoort loting nie ‘n probleem te wees nie, kon in die verlede enige span in die wereld klop – kies net die regte span en afrigters

Jorrie Jordaan ·

Stem saam jou MM………..maar Alister het paar toffies om te kou!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.