Wêreldbeker: Reg-of-weg wag op die Blitsbokke

In Wêreldrugby se sewesreeks, wat nou twee jaar ná mekaar deur Suid-Afrika gewen is, het veral die sterker spanne met die groepfasestelsel feitlik altyd die luuksheid om ʼn moontlike vroeë neerlaag in te haal.

En dikwels was dit die geval wanneer spanne ná die eerste wedstryd eers hul ritme en koers kry.

Van Vrydagaand af is hierdie “opwarmgeleentheid” egter nie die agt sterkste spanne by die Wêreldbekertoernooi beskore nie. ʼn Eerste neerlaag sal die einde beteken van ʼn span se droom om die Melrosebeker te wen, iets wat Suid-Afrika nog nooit kon regkry nie.

Die agt gekeurde spanne sal elkeen speel teen een van die 16 ander spanne wat eers in ʼn uitduntoernooi speel voordat die agt wenners dáár teen die agt voorste gekeurdes in die werklike toernooi te staan kom.

Die Blitsbokke het, soos van die ander gekeurde spanne, ʼn moeilike hekkie in hul eerste wedstryd Saterdagoggend (06:15) waar hulle teen die uitdunwenner tussen Chili en Ierland moet speel.

Nie een van dié twee speel as ʼn gevestigde span in Wêreldrugby se sewesreeks nie, maar kry soms as genooide span kans in die toernooie wat relatief naby aan hulle gespeel word.

Ierland het vanjaar, in sy eerste toernooi, in Londen derde geëindig en in die volgende toernooi die kwarteindronde gehaal. Hulle het in die toernooie met groot spanne afgereken, is goed afgerig en het heelwat talent.

Wen die Blitsbokke teen Ierland/Chili, wag die wenner van die wedstryd tussen die gekeurde Skotland en óf Kenia óf Tonga, wat in die uitdunronde moet uitspeel vir die reg om teen Skotland te speel.

Skotland is die gunsteling, maar die wisselvallige, dog soms briljante, Kenia kan verras en die Skotte klop.

As Suid-Afrika hierdie kwarteindwedstryd wen, sal hulle teen die wenner van die kwarteindstryd tussen die tuisspan, die VSA, en Engeland te staan kom ‒ mits hierdie twee spanne, soos verwag word, hul twee voorgaande wedstryde wen.

Verloor Suid-Afrika in sy eerste wedstryd of in die kwarteindstryd, is die Blitsbokke natuurlik uit die groep spanne wat nog om die Wêreldbeker deelneem en neem hulle bloot deel om die hoogste moontlike plek te probeer losspeel ‒ wat vir Neil Powell-hulle niks sal beteken nie.

Suid-Afrika kon nog nooit die Sewes-Wêreldbeker wen nie en het nog net een keer, in 1997, die eindstryd gehaal.

Die Blitsbokke se span ‒
1. Ryan Oosthuizen
2. Philip Snyman (kaptein)
3. Dylan Sage
4. Zain Davids
5. Werner Kok
6. Heino Bezuidenhout
7. Dewald Human
8. Rosko Specman
9. Justin Geduld
10. Selvyn Davids
11. Siviwe Soyizwapi
12. Ruhan Nel

♦ Die eerste wedstryd in die mansafdeling word Vrydagaand om 22:01  gespeel wanneer Kenia en Tonga in die uitdunronde teen mekaar te staan kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.