Wêreldbekerbod: Is Suid-Afrika en Ierland aan die slaap gevang?

Die Franse rugbybase het die knuppel in die duiwehok gegooi toe hulle Woensdag aangekondig het dat die regering/unie sy gewaarborgde 120 miljoen pond (sowat R2,65 miljard) om 2023 se Wêreldbekertoernooi aan te bied, tot ʼn allemintige 150 miljoen pond (sowat R2,695 miljard) gaan verhoog.

Was dit vuilspel, het die Franse onkant gespeel, of het hulle deur die gaping geglip?

Dit was dalk ʼn meesterskuif voordat die Franse, Ierland en Suid-Afrika Maandag in Londen elk hul WB-bod aan Wêreldrugby gaan voorlê voordat daar in November oor 2023 se toernooi gestem moet word.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase het Woensdag geskarrel en inderhaas met adjunkpresident Cyril Ramaphosa in Kaapstad vergader, want president Jacob Zuma en ʼn rits ander ministers is in New York waar hulle ʼn sitting van die Verenigde Nasies bywoon.

Ek sou wat wou gee om ʼn vlieg teen die muur te gewees het om te hoor watter beloftes gemaak is.

Die vraag is wat Wêreldrugby met die toekenning van ʼn Wêreldbekertoernooi  wil bereik. As hy geld wil maak, moet die bod aan die Franse, en kort op hul hakke aan Suid-Afrika,  gaan. As hy ʼn nalatenskap wil agterlaat, moet dit aan Ierland gaan.

Frankryk en Suid-Afrika het die nodige  infrastruktuur soos stadions, lughawens, hotelle en vorige ervaring.

Wat in Suid-Afrika se guns tel, is dat hy in 1995 die WB-toernooi uiters suksesvol aangebied en daarop voortgebou het met die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010.

Frankryk het so onlangs as 2007 die WB-toernooi (rugby) ook suksesvol aangebied en gaan in 2024 die Olimpiese Spele in Parys aanbied. Verdien hulle weer ʼn WB-rugbytoernooi?

Maar as dit by die toekenning van groot sporttoernooie kom, het ons mos al geleer wat daar agter die skerms aangaan.

Dus sal ons tot in November moet wag om te hoor wie die stokkie langs die pad laat val het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Ek hoop nie ons kry die Wêreldbeker. Ons regering tree rassisties op en meng in met spankeuses by rugby. Ons behoort liewer uit wêreld rugby geskop te word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.