Wêreldbekersewes: Blitsbokke skuld Powelll ʼn groot geskenk

Suid-Afrika se afrigter Neil Powell (Desember 2017) (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Dit sal ʼn groot jammerte en onreg wees as Neil Powell in sy swanesang as Blitsbokafrigter nie aanstaande week die leisels seëvierend in die Wêreldbeker-toernooi in die Kaapstad-stadion kan neerlê nie.

Powell aanvaar ná die toernooi die pos as direkteur van rugby by die Sharks in Durban waar hy sy kennis en ervaring in die 15-manspel gaan inpomp.

Die Blitsbokke skuld Powell ʼn baie groot afskeidsgeskenk en hoewel dit nie maklik sal wees nie, het hulle die vermoë en die vaardighede om die teleurstelling van Wêreldrugby se onlangse sewesreeks op die rak te plaas.

Die Blitsbokke was stewig in die wedloop om dié reeks ʼn vyfde keer te beklink, want hulle was in die eerste vier toernooie baas, wat sonder ander swaargewigte soos Fidji, Nieu-Seeland en Samoa, wat onder Covid19-beperkings gebuk gegaan het, beslis is.

Die Blitsbokke se stoom het opgeraak en ʼn rits beserings het ook hul tol geëis. Dit het die deur vir Australië oopgelaat om sy eerste kroon in Los Angeles te verower.

Die Blitsbokke kon nog nie in agt probeerslae die Wêreldbekertoernooi wen nie, maar met die passievolle tuisskare agter hulle, kan hulle dit die eerste keer vermag.

Powell, wat in sy spelersloopbaan vir die Sharks en Haaie, Cats en Cheetahs (Superrugby en Curriebekerrugby) asook vir die Bulls en Blou Bulle uitgedraf het, het die Blitsbokke in 32 toernooie verteenwoordig voordat hy die leisels by Paul Treu as sewes-hoofafrigter oorgeneem het.

As afrigter het ʼn gros spelers onder hom gedy en onder sy bekwame hande het onder meer Kurt-Lee Arendse, Ruhan Nel en Kwagga Smith Springbokke geword, terwyl Werner Kok ʼn instelling by die Sharks en Stormers is en Rosko Specman een van die Cheetahs se grootste spelskeppers is.

Die span wat Powell vir die Wêreldbekertoernooi gekies het, sluit tien spelers in wat by die onlangse Statebondspele in Birmingham die goue medalje gewen het.

Powell het wel verras deur die veteraan Cecil Afrika nader te trek om broodnodige ervaring te verskaf.

Afrika, wat die Wêreldbekersewestoernooi in 2018 in Moskou weens ʼn besering misgeloop het, speel die afgelope paar maande vir Monaco in die Franse Extenso- sewesreeks.

Die span sluit ook drie spelers, Siviwe Soyizwapi, Selvyn Davids en Ryan Oosthuizen, in wat die bronsmedalje in Moskou gewen het.

Aan ervaring sal dit dus nie ontbreek nie, maar alles gaan afhang hoe die Blitsbokke se paadjie uitgestippel gaan word in die uitkloprondes.

Suid-Afrika (gasheer) is een van agt spanne wat reeds in 2018 gekwalifiseer het saam met Nieu-Seeland, Fidji, Engeland Frankryk, Australië , Argentinië en Skotland.

Daar is 24 mans- en 16 vrouespanne wat oor drie dae deelneem aan ʼn vooraf-rondte van 16, ʼn rondte van 16 en dan die uitkloprondtes.

Blitsbokke (mans): Cecil Afrika, Ronald Brown, Angelo Davids, Selvyn Davids, Muller du Plessis, Christie Grobbelaar, Sako Makata, James Murphy, Mfundo Ndhlovu, Ryan Oosthuizen, JC Pretorius, Siviwe Soyizwapi (kaptein), Impi Visser en Shaun Williams.

Blitsbokke (vroue): Marlize de Bruin, Kirsten Eastes, Nolwazi Hlabangane, Felicia Jacobs, Lerato Makua, Unathi Mali, Ayanda Malinga, Zintle Mpupha, Simamkele Namba, Asisipho Plaatjies, Nadine Roos, Mathrin Simmers, Sizophila Solontsi en Eloise Webb.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.