Wêreldbekertoernooi: bod-voorleggings Maandag aangehoor

Een uit vier, as jy 1995 as Wêreldbekertoernooi in ag neem. Dít is Suid-Afrika se rekord nadat hulle bod vir die 2011-, 2015- en 2019-toernooie aan onderskeidelik Nieu-Seeland, Engeland en Japan toegeken is.

Maandag is dit weer sulke tyd wanneer die raad van Wêreldrugby die aanbiedinge van Suid-Afrika, Frankryk en Ierland aanhoor. Daarna sal die Wêreldbekerraad op 31 Oktober ʼn aanbeveling maak voordat die toekenning van die tiende WB-toernooi op 15 November bekend gemaak word.

Hoe staan Suid-Afrika se kanse? Goed. So ook dié van Ierland en Frankryk, die ander twee aanspraakmakers.

Politiek, rugby en andersins, en ander buitefaktore wat niks met die voorleggings verband hou nie, speel egter ook ʼn (belangrike) rol.

Is dit werklik belangrik om die toernooi aan te bied? Kyk maar na die volgende voordele as Suid-Afrika dit sou kry en besluit self.

Grant Thornton, ʼn internasionale onderneming met ʼn netwerk van onafhanklike finansiële en konsulterende maatskappye, voorsien R27,3 miljard se direkte, indirekte en afgeleide ekonomiese impak vir die land waarvan R5,7 miljard na die laer-inkomste-huishoudings sal vloei; en die skepping van sowat 38 600 tydelike of permanente werkgeleenthede en sowat R1,4 miljard wat as belastingvoordeel na die regering sal vloei.

Suid-Afrika

Kom ons kyk eers na wat SA Rugby glo is hulle sterkpunte en dít wat buitestanders as swakpunte sien.

springbok-rugby-logoSA sterkpunte

♦  Die land het ʼn bewese rekord dat hy groot byeenkomste suksesvol aangebied het. insluitende wêreldbekertoernooie vir rugby (1995), sokker (2010) en krieket (2003); die Indiese Premierliga-kriekettoernooi (IPL) wat in 2009 op kort kennisgewing deur Suid-Afrika oorgeneem is omdat daar kommer oor die sekuriteit tydens Indië se verkiesing was; die 2013 Afrika-Nasiesbeker (sokker); en die Britse en Ierse Leeus se toer 2009.

♦  Suid-Afrika het groot stadia met goeie toeskouersgeriewe;

♦  ʼn Voordelige wisselkoers wat dit goedkoper vir buitelande besoekers maak. Dit sal vir meer besoekers bekostigbaar wees, en heelparty sal nou drie tot vier weke pleks van net sowat ʼn week in Ierland of Frankryk in Suid-Afrika kan deurbring.

♦  Suid-Afrika is slegs 12 uur se vlieg van Europa, minder as 12 uur van Australië en 16 uur van Nieu-Seeland.

♦  Suid-Afrika is reeds ʼn gewilde toeristeland.

♦  Die land is binne televisie se gewildste uitsending-tydsone (wat natuurlik vir Frankryk ook geld).

♦  Die volgrootte Dessos-oppervlakte (gras en kunsmatige vesel wat verweef is) sal op al die velde aangebring word en in die Suid-Afrikaanse lente vir goeie speeloppervlakke sorg. (Dit kan natuurlik ook deur Ierland en Frankryk voorsien word.)

♦  Suid-Afrika se wisselkoers sal hulle in staat stel om die toernooi goedkoper aan te bied en dus ʼn groter wins as die mededingers aan WR te verskaf.

SA se swakpunte –

♦  Die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika (hoewel Frankryk natuurlik terroristeaanvalle ondervind het.)

♦  Die SA regering was nie uit die staanspoor die bod goedgesind nie.

♦  SA Rugby was vir die afgelope drie toekennings van die Wêreldbekertoernooi onsuksesvol. Dit wat laas teen ʼn toernooi in Suid-Afrika getel het, het sekerlik nie wesenlik verander nie.

♦  Die swak Suid-Afrikaanse ekonomie wat plaaslike ondersteuning mag beïnvloed.

♦  ʼn Swak spoorwegnetwerk.

Frankryk
Frankryk se sterkpunte –

♦  Frankryk het, soos Suid-Afrika, reeds ʼn suksesvolle Wêreldbekertoernooi aangebied. Dit was in 2007 toe John Smith se Springbokke die titel gewen het.

♦  Die Franse het ook in ander sporte, waarvan die 2016 Euro-sokkertoernooi die jongste is, met sukses groot toernooie aangebied. Hulle was onder meer ook die gasheer vir die 1998 Wêreldbeker-sokkertoernooi waar hulle die eindstryd met 3-0 teen Brasilië gewen het.

♦  Frankryk is ook binne televisie se gewildste uitsending-tydsone.

♦  Frankryk is ʼn gewilde toeristeland en naby rugby se grootste ondersteunersmarkte (Engeland, Wallis, Skotland, Ierland, die res van Europa).

♦  Benewens Europa se ondersteuning is vlugte van Suid-Afrika en Amerika volop en duur dit minder as 12 uur.

Frankryk se swakpunte –

♦  Frankryk mag as ʼn terroriste-teiken gesien word ná die afgelope twee jaar se aanvalle. Frankryk is ook voorheen deur terroristegroepe geteiken.

♦  Die Franse Rugbyfederasie (FFR) moes Wêreldrugby om verskoning vra ná ʼn twiet dat hulle, gebaseer op die wêreldliggaam se syfers, die beste bod het.

♦  Die FFR se president, Bernard Laporte, word ondersoek omdat hy na bewering druk op die appèlraad geplaas het om strawwe van Montpellier se spelers te verminder nadat sy maatskappy ʼn kontrak van 150 000 euro’s (sowat R2,38 miljoen) met Montpellier se eienaar, Mohed Altrad, gesluit het.

Ierland
Ierland se sterkpunte –

Wêreldrugby se missie is om rugby na soveel lande as moontlik uit te brei. Dit geld ook toernooie.

Met 35 miljoen Iere in die VSA kan dit ʼn vergrote televisiemark beteken.

Ierland het pas rugby se Wêreldbekertoernooi vir vroue baie suksesvol aangebied.

Wêreldrugby se hoofkantoor is in Dublin.

Ierland se swakpunte –

Wêreldrugby mag ʼn tikkie versigtig wees om weer ʼn ‘nuweling-land’ met ʼn toernooi toe te vertrou ná die probleme wat tans met Japan se voorbereiding ondervind word.

Ierland is ʼn mooi en gewilde land, maar ietwat uit die pad van die gewone toeris.

Ierland se interne vervoernetwerk is nie waffers nie.

Hulle het nie veel groot stadia nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Callie ·

Dink hulle moet kyk of die land n kompeterende span het. Die land wat aanbied moet darem halfeind toe kan gaan. Daarby kan SA nie uitkom nie. Nie gou weer nie. Kan amper waarborg teen daardie tyd is SA nog erger af as nou. Teen daai tyd sal die kwota darem wees daar kan 2 wittes op die bank begin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.