Wêreldrugby appelleer teen Farrell-beslissing

Owen Farrell. Foto: Franck Fife/AFP.

Owen Farrell se betrokkenheid by die komende Wêreldbeker-toernooi is opnuut in twyfel getrek nadat Wêreldrugby aangekondig het hy gaan appelleer teen die besluit om sy rooi kaart om te keer.

Wêreldrugby het Donderdag in ’n verklaring gesê hy beskou ʼn appèl teen die beslissing as geregverdig, maar het nie die spesifieke gronde daarvoor bekend gemaak nie.

“Wêreldrugby ondersteun ten volle die belangrike rol wat ’n onafhanklike dissiplinêre proses speel in die handhawing van die integriteit en waardes van die sport, veral met betrekking tot gemene spel wat kopkontak behels,” lui die verklaring.

Volgens Wêreldrugby sal ʼn onafhanklike appèlkomitee aangestel word om die saak so vroeg moontlik te beslis.

“Verdere besonderhede rakende die verhoor, insluitend afsprake en datum, sal deur Sesnasies-rugby [wat toesig hou oor die dissiplinêre proses vir opwarmingswedstryde waarby groot Europese lande betrokke is] bevestig word.”

Farrell het die naweek ʼn geel kaart gekry vir sy skouerloop op Taine Basham, maar dit is toe na ʼn rooi kaart verander met die gebruik van die nuwe “bunker”-hersieningstelsel.

ʼn Dissiplinêre paneel, bestaande uit drie Australiërs, het egter beslis dat dit verkeerd was om die geel kaart na ʼn rooi kaart te verander aangesien daar versagtende omstandighede was wat in ag geneem moes word.

Engeland sal later Donderdag sy span aankondig wat teen Ierland te staan gaan kom. Dit is tans onbekend wat Wêreldrugby se aankondiging gaan beteken rakende die Engelse afrigter, Steve Borthwick, se spankeuse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Hoop nie dis net ‘n ge papier rondskuiwery formaliteit om bietjie gesig te behou nie. En dan word hy steeds onskuldig bevind nie!

Niklaas ·

Pragtig. Hierdie Farrel moet ‘n slag in die bek geruk word. Hy kan nie alweer wegkom daarmee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.