Wêreldrugby saal sy eie probleme op

Daar gaan byna nie meer ʼn toetswedstryd verby waar die skeidsregters (en hul assistente) nie deurloop nie.

Ja, in baie gevalle is hulle in die spervuur oor blatante foute, maar dis ʼn byna onbegonne taak om op grondvlak met arendsoë voor en agter in jou kop nie foute te begaan nie.

Onthou, dis 30 ingeoefende spelers wat die sondaars is. Dit húlle wat oortree, wat onwettige, gevaarlike en laat duikslae uitvoer, wat by byna elke losskrum indons en teenstanders onwettig wegduik; wat in byna elke lynstaan (waar daar meegeding word) oortree; wat onkant boer; wat nie die bal laat los nie; die skrums laat val of swaai; en dis húlle wat die bal vorentoe aangee, probeer wegklap en dan van een persoon te verwag om kop te hou.

Ná Saterdag se reeks toetswedstryde was daar weer verskeie klagtes. Die Franse afrigter, Jacques Brunel, het oor die Walliese blaser Nigel Owens gekla ná die kragmeting met die Springbokke.

Die Walliese afrigter, Warren Gatland, het gebrom oor die Nieu-Seelandse skeidsregter Ben O’Keeffe, wat nie ʼn strafskop aan die Rooi Drake toegeken het nie nadat die Wallabies-senter Samu Kerevi die Walliese heelagter, Leigh Halfpenny met ʼn onwettige skouerloop disnis geloop het.

En wat van die Franse skeidsregter Jérôme Garcès wat ʼn drie aan Engeland toegeken het, maar deur die televisieskeidsregter, Marius Jonker, oortuig is dat Courtney Lawes onkant was voordat hy die skop van TJ Perenara afgestorm het wat tot Sam Underhill se “drie” gelei het?

Die gewese toetsskeidsregter Jonathan Kaplan, sê dat Jonker gefouteer het omdat Lawes nie onkant was nie.

Dink ook maar terug aan die Australiese skeidsregter Angus Gardner wat tien dae gelede gefouteer het deur nie ʼn strafskop aan die Springbokke toe te ken vir die Owen Farrell-skouerloop op André Esterhuizen nie.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase het by Wêreldrugby oor Gardner gekla en sommer ook ʼn video aangestuur waar 25 van Gardner se blapse in Springboktoetse uitgewys is.

Net verlede week het die rugbybase hul kwartaallikse werksessie met die voorste skeidsregters en afrigters gehou.

Gardner is glo geroskam, want die algemene gevoel was dat hy minstens ʼn strafskop vir die Springbokke moes toegeken het.

Ná die skeidsregters se vergadering is ʼn verklaring uitgereik waarin daar gesê is dat die blasers aan hul verpligtinge herinner is om onwettige duikslae, sonder dat daar arms gebruik word, hoë duikslae of duikslae waar daar met die voorarm of elmboog gelei word, te straf.

Die vraag is steeds hoekom die uitwysbeampte niks oor die Farrell-skouerloop te gesê gehad het nie?

Die vraag is steeds hoekom die uitwysbeampte nie teen Kerevi opgetree het nie vir ʼn soortgelyke skouerloop op Halfpenny nie?

Is dáár ook twee stelle reëls? Een vir die Groot Agt en ʼn ander vir die res?

Hoekom? Want die Fidjiaanse senter Eroni Vasiteri is dan Sondag deur die Engelse beampte Andy Blyth uitgewys vir ʼn gevaarlike duikslag in Saterdag se toetswedstryd teen Skotland.

Kom ons kyk maar hoe swaar hy gestraf gaan word… en dan het Farrell en Kerevi vrypasse om aan te hou speel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hoe nou.......

Hier kom nog groot marakkas!

Johan

Net ‘n totaal ander hoek. Wereldrugby moet sy huis in orde kry as dit kom by interpretasie van verskeie reels. Ek wil graag 2 noem: 1. Ingooi van bal by skrum. Klaarblyklik is dit toelaatbaar (alhowel die reel praat van reguit ingooi) vir die skrumskakel om die bal skeef by ‘n skrum in te gooi. Maar o wee, as die haker dit skeef by die lynstaan ingooi, is dit ‘n skrum. 2. Wanner is die bal uit ‘n losskrum? Ek sien gereeld die skrumskakel staan met die bal onder sy voet (en uit die losskrum) of as die bal op… Lees meer »

Wolkie

Omkoopgeld.. kyk al die jare wat in krieket gebeur het, Engelse was beslis nie gunstelinge nie, n paar duisend op hulle sou n goeie wins gemaak het

Lia

Stem saam Johan!!

Wesley

Ek stem dat Wereld Rugby se huis onbetwyfeld erg deurmekaar is. Die reels wat deur hel en terug getrek word om te bestaan word nie toegepas nie… Een jaar het hul die skeef in die skrum gooi geblaas, en toe heeltemal weer vergeet wanneer daar weer hoogvatte in rugby erg opvlam. Dis asof hul nie al hul reels op een slag kan na kom nie, vir watter rede weet ek glad nie. As dit so in die boek staan, dan so moet dit gedoen word! Dis asof rugby so amateur-agtig bedryf word, die hele wereld om. G’n wonder niemand maak… Lees meer »