Wêreldrugby saal sy eie probleme op

Daar gaan byna nie meer ʼn toetswedstryd verby waar die skeidsregters (en hul assistente) nie deurloop nie.

Ja, in baie gevalle is hulle in die spervuur oor blatante foute, maar dis ʼn byna onbegonne taak om op grondvlak met arendsoë voor en agter in jou kop nie foute te begaan nie.

Onthou, dis 30 ingeoefende spelers wat die sondaars is. Dit húlle wat oortree, wat onwettige, gevaarlike en laat duikslae uitvoer, wat by byna elke losskrum indons en teenstanders onwettig wegduik; wat in byna elke lynstaan (waar daar meegeding word) oortree; wat onkant boer; wat nie die bal laat los nie; die skrums laat val of swaai; en dis húlle wat die bal vorentoe aangee, probeer wegklap en dan van een persoon te verwag om kop te hou.

Ná Saterdag se reeks toetswedstryde was daar weer verskeie klagtes. Die Franse afrigter, Jacques Brunel, het oor die Walliese blaser Nigel Owens gekla ná die kragmeting met die Springbokke.

Die Walliese afrigter, Warren Gatland, het gebrom oor die Nieu-Seelandse skeidsregter Ben O’Keeffe, wat nie ʼn strafskop aan die Rooi Drake toegeken het nie nadat die Wallabies-senter Samu Kerevi die Walliese heelagter, Leigh Halfpenny met ʼn onwettige skouerloop disnis geloop het.

En wat van die Franse skeidsregter Jérôme Garcès wat ʼn drie aan Engeland toegeken het, maar deur die televisieskeidsregter, Marius Jonker, oortuig is dat Courtney Lawes onkant was voordat hy die skop van TJ Perenara afgestorm het wat tot Sam Underhill se “drie” gelei het?

Die gewese toetsskeidsregter Jonathan Kaplan, sê dat Jonker gefouteer het omdat Lawes nie onkant was nie.

Dink ook maar terug aan die Australiese skeidsregter Angus Gardner wat tien dae gelede gefouteer het deur nie ʼn strafskop aan die Springbokke toe te ken vir die Owen Farrell-skouerloop op André Esterhuizen nie.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase het by Wêreldrugby oor Gardner gekla en sommer ook ʼn video aangestuur waar 25 van Gardner se blapse in Springboktoetse uitgewys is.

Net verlede week het die rugbybase hul kwartaallikse werksessie met die voorste skeidsregters en afrigters gehou.

Gardner is glo geroskam, want die algemene gevoel was dat hy minstens ʼn strafskop vir die Springbokke moes toegeken het.

Ná die skeidsregters se vergadering is ʼn verklaring uitgereik waarin daar gesê is dat die blasers aan hul verpligtinge herinner is om onwettige duikslae, sonder dat daar arms gebruik word, hoë duikslae of duikslae waar daar met die voorarm of elmboog gelei word, te straf.

Die vraag is steeds hoekom die uitwysbeampte niks oor die Farrell-skouerloop te gesê gehad het nie?

Die vraag is steeds hoekom die uitwysbeampte nie teen Kerevi opgetree het nie vir ʼn soortgelyke skouerloop op Halfpenny nie?

Is dáár ook twee stelle reëls? Een vir die Groot Agt en ʼn ander vir die res?

Hoekom? Want die Fidjiaanse senter Eroni Vasiteri is dan Sondag deur die Engelse beampte Andy Blyth uitgewys vir ʼn gevaarlike duikslag in Saterdag se toetswedstryd teen Skotland.

Kom ons kyk maar hoe swaar hy gestraf gaan word… en dan het Farrell en Kerevi vrypasse om aan te hou speel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan ·

Net ‘n totaal ander hoek. Wereldrugby moet sy huis in orde kry as dit kom by interpretasie van verskeie reels. Ek wil graag 2 noem:
1. Ingooi van bal by skrum. Klaarblyklik is dit toelaatbaar (alhowel die reel praat van reguit ingooi) vir die skrumskakel om die bal skeef by ‘n skrum in te gooi. Maar o wee, as die haker dit skeef by die lynstaan ingooi, is dit ‘n skrum.
2. Wanner is die bal uit ‘n losskrum? Ek sien gereeld die skrumskakel staan met die bal onder sy voet (en uit die losskrum) of as die bal op die grond is, staan die skrumskakel met sy hande op die bal en kyk rond en rond en rond. Daai bal is volgens my uit die losskrum. Maar skeidsregters sien dit nie so nie, want geen oppponent mag dit durf waag om die skrumskakel te duik nie. As die bal uit die losskrum is, mag die opponente tog omkom en speel, maw die skrumskakel duik.

Bogenoemde twee het nou al “standaard” interpretasies geword maar volgens my is dit strydig met die reel.

Varkie ·

Ja verstaan ook nie hoekom moet voorspelers met geelkaarte dadelik vervang word sodat die skrums kompeterend is as hulle in elk geval net bal skeef ingooi.. maar nou ja..

Wolkie ·

Omkoopgeld.. kyk al die jare wat in krieket gebeur het, Engelse was beslis nie gunstelinge nie, n paar duisend op hulle sou n goeie wins gemaak het

Arie ·

Ek stem! Daar gebeur net te veel goed wat hulle kamtig nie raaksien nie, self al maak hulle van die TV Ref gebruik! Geld praat beslis probleem is om dit te bewys, maar eendag gaan iemand praat!

Wesley ·

Ek stem dat Wereld Rugby se huis onbetwyfeld erg deurmekaar is. Die reels wat deur hel en terug getrek word om te bestaan word nie toegepas nie… Een jaar het hul die skeef in die skrum gooi geblaas, en toe heeltemal weer vergeet wanneer daar weer hoogvatte in rugby erg opvlam. Dis asof hul nie al hul reels op een slag kan na kom nie, vir watter rede weet ek glad nie. As dit so in die boek staan, dan so moet dit gedoen word! Dis asof rugby so amateur-agtig bedryf word, die hele wereld om. G’n wonder niemand maak geld nie, hul word net nie ernstig geneem nie.

Henk ·

Stem nie saam Kaplan nie. Die engelsman hardloop voor sy eie spelers na die losskrum. Hulle vorm reeds die agterlyn op die onkantlyn. Die speler is verby sy laasteman se voete. En hy val daarvandaan aan om die bal af te storm.

Henk ·

Wereld rugby skep grys areas waar probleme ontstaan. Hulle moet summier ingryp met die sogenaamde rolmaal bewegings. Met 8 plus man voor die baldraer- hoe kan dit nie obstruksie wees nie. Die verdediger mag dit nie laat val nie maar die baldraer se eie spelers mag?Die nuwe tendens is die losgemaal wat skielik in n “ tackle” verander wanneer die baldraer homself op die grond neerwerp terwyl dit duidelik is dat die opponent hom probeer bo hou.

Kiewiet ·

Al hier die blapse kom al van Forward Pass Watson se dae af.

ManieM ·

Om hierdie skeidsregter probleer op te los bly ek by my voorstel. Daar is vier gekwalifiseerde skeidsregters by ‘n wedstyd. Hulle staan by die veld en die kaptein wat die lood gewen het kan ‘n kant van spel en skeidregter kies vir ‘n helfte van die wedstyd. Die kaptein van die ander span kan die TMO kies en die ander twee word vlagmanne. Die kaptein wat die lood gewen het kan sy helfte met skeidsregter bank vir die tweede helfte of die eerste helfte speel met sy keuse. As hy die skeidsregte bank vir die eerste helfte kan die keuse van die ander kaptein se skeidsregte blaas vir die eerste helfte. As die skeidsregter swak blaas het dan net 40minute slegte invloed op die spel. Dink net as hy sleg blaas en nou moet hy die tweede helte vlagman word. Die skeidsregte r geld word verdeel meer gelykop en meer manne kry kans om te blaas.

nico k ·

Ek stem saam met Henk en Johan oor reels wat bestaan maar nie toegepas word nie. En ander reels wat so streng toegepas word, en waarvoor ek geen doel sien nie. Die groot probleem is dat daar te veel tegniese reels is en geen rugby speler op volspoed en hoogs gemotiveer kan aan sulke klein dingetjies voldoen nie. Sokker is so gewilde sport omdat dit ‘n baie eenvoudige sport is vir toeskouers. Baie min rugby toeskouers verstaan al die (hoeveel duisend?) reels.

Pierre ·

nico k, dit is nie ‘n geval van “min rugby toeskouers” wat die reels ken nie. Die grootste probleem met rugby en sy potensiele doodsteek is die ingewikkelde reels PLUS die interpretasie daarvan. Nie die skeidsregters, of die spelers, of die afrigters, of die administrateurs of die toeskouers ken en/of interpreteer die reels dieselfde nie. Vereenvoudig soos sokker!!

Frans C ·

Die fout lê nie by die wette (law) (reëlsnie maar wel by afrigters en talle beamptes wat reëls ontleed en toelaat dat spelers so afgerig om elke swakplek wat daar bestaan uit te buit en grensgeval spelers op lewer.

Dit word gedoen want wen ten alle koste is prioriteit no 1,want onthou dat is nou beroepsrugby waar loopbane op die spel is van sowel afrigters as spelers.Daarom moet assisent skeidsregters (in ou taal vlagmanne) meer gebruik word en die skeidsregter
bystaan en bv skewe ingooi by skrums uit te wys.

In rugby gaan dit oor laagvatte en nie judogooie nie.Ons sien te veel dat spelers aan truie gegryp word en omgetrek word.Dit is juis hier waar grys areas ontstaan,Oor die algemeen word ‘n ‘high tackle’ vertolk as enigiets wat by die skouers is en dus die nek en kop teiken.
Dit is mi te vaag, want baie spelers sal juis geboë in ‘n laagvat ingaan of soos in die Esterhuise geval met ‘n voorarm lei. Die laagvatgebied moet dus meer duidelik omskryf word en is mi die gebied van enkel tot armholte en moet ten minste een arm en verkieslik beide arms om die gebied gebind wees.

Dit gaan die spelers beskerm en judogooie aan truie uitskakel.Kyk gerus hoe baie spelers net aan die trui gegryp en grond toe geslinger word.

Anoniem ·

Nie so lank gelede nie was daar slegs ‘n wedstryd skeidsregter en 2 vlagmanne (ook skeidsregters) betrokke sonder enige probleme. Daar was geen televisie skeidsregter soos vandag betrokke nie. ‘n Moontlike oplossing kan dalk wees om 2 ekstra “vlagmanne” of assistent skeidsregters toe te voeg. Dit beteken dat ‘n “vlagman” of assistent dus slegs een helfte van die veld aan sy kant hoef te patrolleer. Skeidsregters wat nie iets wil raaksien nie, sal dit egter nooit raaksien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.