Wêreldrugby sê ja vir rassekwotas in SA rugby

Vergeet daarvan om by Wêreldrugby (WR) oor rassekwotas in Suid-Afrikaanse rugby te kla, dié liggaam het pas indirek sy goedkeuring daaraan verleen, oënskynlik ten koste van sy eie integriteit.

Daar is geen ander afleiding te maak nie uit die WR-raad se voorlopige toesegging van 2023 se toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) aan Suid-Afrika.

Dié stap kan eweneens dui op die negering van AfriForum se klagte teen rassekwotas en politieke inmenging, wat in Julie vanjaar in Dublin by WR ingedien is.

As die liggaam hoegenaamd ʼn beswaar teen politiek geïnspireerde rassekwotas gehad het, sou hy tog nie sy vlagvoerende toernooi daarmee wou vereenselwig nie.

Integriteit?

In die proses kan die vraag tereg gevra word in hoeverre WR se integriteit na aanleiding van die besluit in gedrang kom.

WR sê uitdruklik in die aanhef van sy Regulasie 9 dat dit in die hoogste openbare belang is dat die beste spanne en spelers die [nasionale] unies verteenwoordig (paragraaf 9A).

“Die kies van die beste spelers vir internasionale rugby bied die regverdigste keuringstelsel omdat dit op spelmeriete geskoei is.”

Eenvoudiger en duideliker kan dit gewis nie gestel word nie.

Tweegesig

Paragraaf 9B sê ʼn unie “moet in staat wees om sy beste span vir toetse te kies” … “om te verseker dat die gehalte en integriteit van internasionale rugby staande gehou word”.

Paragraaf 9E sê dis in die beste belang van sport op alle vlakke dat Regulasie 9 deur alle belanghebbendes behoorlik en te goeder trou toegepas word.

Spelersbestuur en -welsyn is die enigste rede wat WR as uitsondering op die reël erken.

Gemeet aan sy eie gepubliseerde maatstaf kan die wêreldliggaam geen redelike mens verkwalik nie as hy hom (WR) as ʼn tweegesig beskou.

Vergeet dit

Dit wil dus voorkom of enigeen wat hom by WR teen rassekwotas verset sy energie verkwis, omdat dié liggaam skynbaar in hierdie opsig kop in een mus met die ANC-regering is.

ʼn Mens wil vir geen oomblik Suid-Afrika die aanbieding van die RWB-toernooi in 2023 misgun nie, maar jy wil darem met jou beste span daaraan deelneem.

As WR werklik die integriteit van die spel op die hart dra, soos hy voorgee – en dit geld insgelyks vir die toernooi se integriteit – kan hy minstens seker maak dat die gasheer se span op meriete gekies word.

Hy behoort hom aan stemme, veral uit Nieu-Seeland, te steur dat die politieke inmenging wat Suid-Afrikaanse rugby knelter in die belang van internasionale mededingendheid uit die weg geruim moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Proefvlug ·

Al die is politiek. Die SA regering het groot ondersteuning vir die SA rugby veldtog verleen , so dit is tyd vir Wereld Rugby beheerliggaam om dieselfde te doen . Ek hoop ons kry die 2023 geleentheid. Dalk word dit ‘n verleentheid maar dit bly nogsteeds n geleentheid .

‘n All Black span op SA bodem vir die hele toernooi kan net ongelooflik wees.

Lukie Carelsen ·

Dis ‘n skande dat WR sulke dubbele standaarde handhaaf!

Boikot ALLE sportbande met S.A. totdat spanne op meriete gekies word en nie volgens ras nie. Finish en klaar!

Terloops: ek hoop S.A. kry nie die voorreg om die 2023 wereldbeker aan te bied nie. Gee dit vir Ierland of Frankryk waar geen politici hul rugby beheer nie!

Spiekeries ·

Die stelsel is vrot! Suid-Afrika sal die betrokke toernooi nog “wen” ook. Daarvoor sal gesorg word want geld is mos nie ‘n kwessie nie.

Veritas ·

Die groot rede, vir die besluit om die kompetisie in SA te hou, is die swak Rand. Rugby het min met dié besluit uit te waai, dit gaan alles oor geld. ‘n Algehele boikot deur Springbokondersteuners sal dalk nie keer dat die toernooi hier plaasvind nie maar dit sal Wêreldrugby se oë oopmaak vir wat hier aan die gebeur is.

Willie ·

Ek stem dit gaan oor die swak rand! Goedkoper om dit hier te hou… Die ondersteuners moet net boikot, die buitelandse toeruste sal self gou uitvind van al die kriminele aktiweteite in die land!!!

bgj van der westhuizen ·

wel as jy kyk wat kos dit om te gaan kyk vir rugby teen oor sokker as ons dit nie meer steen nie sal sa rugby geld verloor en dit is al maneer hoe ons kan seker maak dat hulle begin om die regte spelers en die beste te kies maak nie saak watter kleur dit is nie en volgens wat die dom regering wil he nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.