Wêreldrugby sê nee vir internasionale toetse in Julie

Die toetse teen Skotland en Georgië sou Jacques Nienaber se eerste aan die stuur van die Springbokke gewees het. Foto: Twitter.

Wêreldrugby het vanoggend aangekondig dat Julie se internasionale toetse weens die wêreldwye Covid-19-pandemie uitgestel is. Daarbenewens is die verbod op internasionale reise en kommer oor die beperkte voorbereidingstyd van die spanne ook bydraende faktore.

Die beheerliggaam se besluit het ’n direkte invloed op die Springbokke se tuisreeks teen Skotland, sowel as die geskiedkundige toets teen Georgië.

Jacques Nienaber se eerste reeks aan die stuur van die Springbok-span sou op 4 en 11 Julie teen Skotland op Nuweland en Kingspark gewees het. Dit sou die ikoniese Nuweland-stadion se vaarweltoets gewees het.

Dan sou Georgië op 18 Julie hul eerste wedstryd ooit teen die Bokke in Suid-Afrika gespeel het.

Wêreldrugby sal saam met nasionale rugby-unies, spelers en die nasionale regerings van die betrokke lande werk in ’n poging om die toetsjaar te beredder.

“Alle besluite wat geneem word, sal die spelers se gesondheid en welstand op die hart dra,” het die uitvoerende hoof van SA Rugby, Jurie Roux, gesê.

Hy het bygevoeg dat dit nog te vroeg is om oor moontlike oplossings te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae