Wêreldrugby se taai toffie

Galway se Rugby Ground. (Foto: Facebook)

Vrouerugby suig maar aan die agterspeen in Suid-Afrika, maar dit kan nog die doodskoot vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) wees as dit gaan om die Wêreldbekertoernooi vir mans in 2023 tuis aan te bied.

Die Wêreldbekertoernooi vir vrouespanne vind tans in Ierland en Noord-Ierland plaas, en dit dien as ʼn kleedrepetisie vir Ierland se bod om in 2023 die WB-toernooi vir mans aan te bied.

As die vrouetoernooi, waarvoor die vroue-Bokke nie kon kwalifiseer nie, ʼn dawerende sukses is, kan dit die deure oopswaai vir Ierland om Suid-Afrika en Frankryk uit te stof wanneer daar in November vanjaar oor 2023 se WB-toernooi gestem word.

Die vrouetoernooi is op ʼn baie kleiner skaal, en dit word oorwegend by die Universiteit van Dublin en in Belfast beslis.

Die halfeindstryde en eindstryde word in die Kingspan-stadion in Belfast gespeel, waar die 18 000 kaartjies vir elke dag reeds uitverkoop is.

Almal weet dat die Iere nie kan saampraat wanneer dit by stadions en die aanbied van groot internasionale sporttoernooie kom nie. Ja, hulle sal gebruik maak van agt Galliese voetbalstadions om die WB-toernooi aan te bied, en vanselfsprekend hul kleiner rugbystadions moet opgradeer.

As die WB-toernooi bloot die melkkoei is om geld te maak vir Wêreldrugby, sal die jawoord aan Suid-Afrika of Frankryk gegee word.

Maar as die WB-toernooi ook gebruik word om ʼn nalatenskap te laat, om die spel uit te brei en te bevorder, om infrastruktuur te skep, het die Iere ʼn buitekans.

Suid-Afrikanse ondersteuners sal hulle binnekort met van die Ierse stadions kan vergewis wanneer die Cheetahs en Southern Kings in die Pro14-reeks speel.

Soos gesê, is daar maar plek vir 18 00 toeskouers wanneer Ulster in die Kingspan-stadion in Belfast speel.

Munster se Thomondpark in Limerick het plek vir 26 500 toeskouers, Leinster speel hul tuiswedstryde in die Aviva-stadion in Dublin (51 700), maar wanneer Conncaht op Galway se Rugby Ground speel, pak 7 500 toeskouers die veld vol.

Daar is net ʼn hoofpaviljoen, en aan die oorkant staan die toeskouers rye diep teenaan die veld.

Dis hoekom Wêreldrugby ʼn taai toffie het om aan te kou voodat daar in November gestem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daan Erasmus ·

Toeskouer getalle en dus stadion grootte maak nie regtig saak nie. Die groot geld is in die TV regte. En Suid Afrika is vêr om te vlieg. Ons begin met ‘n agterstand

Johan ·

Wat mooi is van die Pro14 reeks en sy voorgangers is dat dit om Rugby (met ‘n hoofletter) gaan en nie om geld, die melkkoei en stadions nie. Die goete kom as die rugby reg is – let maar op die gereelde kykergetalle van die Verenigde Koningkryk en Europa se rygby waaroor Maroela so ‘n paar maande gelede berig het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.