Westelike Provinsie, Sharks steeds onoorwonne

Die Westelike Provinsie en die Sharks is ná Saterdag steeds onoorwonne in die reeks om die Curriebeker.

Op Nuweland was die WP met puik aanvalswerk en selfs beter verdediging met 38-12 Griekwas se meester (rustyd 33-7); en in Durban was die Sharks rustyd reeds met 30-7 voor, om uiteindelik slegs met 37-21 te wen.

Ondanks die feit dat hulle nie die mas in die skrums kon opkom nie, het Griekwas vroeg in die wedstryd heelwat van die bal gesien en die grootste gebiedsvoordeel geniet, maar die tuisspan se verdediging het gehou. Boonop het die Poubloues verkies om strafskoppe hoek toe eerder as pale toe te mik (selfs al is hulle op hul eie ingooie geklop).

Die heersende kampioen het gereeld op Griekwas se aanvalle met langafstandlopies teruggeslaan. Sy bonuspuntdrie was binne 26 minute op die telbord.

Die besoekers se dissipline het veel te wense oorgelaat. Conway Pretorius is gestuur om te gaan afkoel nadat hy die Springbokhoop Damian Willemse laat en sonders arms geloop het, en die skeidsregter het hulle gewaarsku teen te veel laatvatte.

♦ Op ʼn nat Kingspark het die Sharks veral in die eerste helfte goeie beheer gehad, maar die Goue Leeus het gesukkel.

Toe die besoekers in die tweede helfte beter vaar, was die inhaaltaak te groot.

Op die koop toe het hulle, nes Griekwas, te veel strafskoppe afgestaan, en het Marvin Orie (slot) ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Eerste Liga

♦ Op Lambertsbaai aan die Weskus het Boland die Valke in die Eerste Liga met 20-7 geklop, en daarmee die Suidoos-Gautengers op die punteleer verbygesteek.

♦ Die verdedigede kampioen, die Griffons, het sy eerste oorwinning van die reeks behaal deur die Oostelike Provinsie in Despatch met 35-22 te verslaan.

Hy het indrukwekkend teruggeveg nadat die tuisspan rustyd met 19-14 voor was.

Puntemakers –

Curriebeker

Sharks 37 (30) – Drieë: Daniël du Preez (2), Louis Schreuder, Luke Stringer. Doelskoppe: Robert du Preez (4). Strafdoele: Robert du Preez (2).

Goue Leeus 21 (7) – Drieë: Sylvain Mahuza, James Venter, Wandisile Simelane. Doelskoppe: Shaun Reynolds (3).

WP 38 (33) – Drieë: Joshua Stander, Sergeal Petersen (2), Herschel Jantjies, Juarno Augustus, JJ Engelbrecht. Doelskoppe: Joshua Stander (4). 

Eerste Liga

Boland 20 (14) – Drieë: Marlyn Williams, Valentino Wellman. Doelskoppe: Jacquin Jansen (2).
Strafdoele: Ralton October (2).

Valke 7 (7) – Drie: Coert Cronjé. Doelskop: Anrich Richter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Die skeidsregter was nie skerp nie en ook soms ini pad van spelers. Die tv skeidregter moes dan meeste van sy beslissings vir hom deurgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.