White gaan blou aantrek

Jake White. Argieffoto. 

Jake White, afrigter van die Springbokke tydens hul suksesvolle Wêreldbeker-veldtog van 2007 in Frankryk, is amptelik as die Bulls se nuwe direkteur van rugby aangewys.

Hy sal tot die 2023-Wêreldbeker-skouspel deel van die Bulls-opset wees en hy is ’n direkte plaasvervanger vir Alan Zondagh wat vroeër vanjaar weens persoonlike redes die unie vaarwel geroep het.

White het vier dekades se ervaring as afrigter. Buiten sy tyd by die Bokke was hy ook aan die stuur van Toyota Verblitz in Japan sowel as die Sharks en die Brumbies in die Superrugby-reeks. Nou sien hy uit na sy volgende hoofstuk op Loftus Versfeld.

Bryan Habana, Jake White en John Smit ná die 2007-finaal teen Engeland.. Foto: Facebook.

“Ons moet sorg dat die wenkultuur weer op Loftus gevestig word en dit sal ongetwyfeld sorg dat die toeskouers weer na die stadion stroom. Dit sal glad nie maklik wees nie, maar ek sien uit na die uitdaging,” het White gesê.

“As ’n handelsmerk was die Bulls nog altyd ’n krag in rugby; hulle word regoor die wêreld gerespekteer.

“Hul rugbygeskiedenis en -erfenis is iets om op trots te wees en ek hoop dat my rol tot hul nalatenskap kan bydra.”

Op sy beurt het die Bulls se uitvoerende hoof, Alfonso Meyer, gesê dat die Pretorianers opgewonde is oor White se aanstelling.

“Jake se CV spreek boekdele van sy vermoë en ons weet dat sy insette net ons rugby sal bevoordeel. Sy aanstelling is beslis ’n stap in die regte rigting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

Jake White is bekend vir sy autokratiese optrede en sal seker weer spelers wat by sy patroon inpas begin werf.

Henk ·

Dit is wat my ook bekommer. Hy beweer hy het verander, maar hy sal baie moet verander het om werklik vir die Bulle van waarde te kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.