White kies sy spoedvrate teen Lions

Die Bulls se Stedman Gans en Canan Moodie op die aanval. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls trek met ʼn gevaarlike agterlyn oor die Jukskeirivier vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Lions op Ellispark.

Devon Williams – deesdae ʼn permanente gesig in Pretoria – sal die no. 15-trui dra, terwyl Springbokke Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie die twee vleuels is.

Stedman Gans en David Kriel is die senterkombinasie, met Jaco van der Walt en Embrose Papier die skakelpaar.

Voorlangs kry die opwindende Cameron Hanekom weer speelkans, terwyl Elrigh Louw en Marco van Staden die res van die lostrioprentjie inkleur.

Ruan Nortjé sal die span op die veld aanvoer en in die lynstane saam met Reinhardt Ludwig rank. Dan is hardebaarde soos Akker van der Merwe en Marcell Coetzee op die plaasvervangersbank ingesluit.

Die Bulls het die twee spanne se vorige ontmoeting op Loftus Versfeld met net twee punte (30 – 28) gewen en Jake White weet dat die Johannesburgers gevaarlike teenstanders is.

“Ivan van Rooyen (Lions-afrigter) verdien lof vir die wyse waarop sy span gekondisioneer is, terwyl hulle teenaanvalle kan ontlont omdat dit juis ook een van hul sterk punte is. Terselfdertyd is hul vleuels ook baie goeie verdedigers en ons sal nuwe planne moet bewimpel om deur hul verdedigingslinie te kom,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

“Hulle is inderdaad ʼn baie goeie rugbyspan.”

Volgens die Wêreldbeker-wenafrigter is daar baie op die spel vir al twee Gautengspanne.

Die Bulls wil hul punteleermomentum behou, terwyl die Lions oorgehaal is om die sprong na die topagtspanne te maak.

“Ons sal op ons beste moet wees – dit is amper soos toetsrugby. Die Lions speel goed saam en Ivan is ʼn kondisioneringspesialis wat weet hoe om sy spelers fiks en vars te hou. Die volgende paar kragmetings is ʼn toetslopie vir die uitklopwedstryde wat volg.”

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Devon Williams (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Canan Moodie (linkervleuel), Jaco van der Walt (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Cameron Hanekom (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Reinhardt Ludwig (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Simphiwe Matanzima, Akker van der Merwe, Francois Kloppers, Janko Swanepoel, Marcell Coetzee, Keagan Johannes, Johan Goosen en Mpilo Gumede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.