White meen Bokke laat VRK-kwik styg

Kurt-Lee Arendse, Marco van Staden, Willie le Roux en Canan Moodie is die Bulls se Wêreldbeker-wenners. (Foto: X/Bulls)

Die Bulls het Saterdagmiddag op ʼn vuurwarm Loftus Versfeld ʼn spul drieë gedruk om Connacht met 53 – 27 te troef.

Sodoende het hulle die eerste Suid-Afrikaanse span geword om met die Ierse teenstanders in die jongste weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap af te reken.

En volgens Jake White was dit lekker om ʼn Bulls-span gelaai met Springbokke te kies.

Benewens terugkerende Wêreldbeker-wenners soos Canan Moodie en Marco van Staden het Willie le Roux ook sy buiging vir die Pretorianers op heelagter gemaak.

Onder die voorspelers was sterre soos Akker van der Merwe, Ruan Nortjé, Wilco Louw en Nizaam Carr ook al deel van die Springbok-opset.

“Om die Springbokke terug te hê is ongelooflik. Ek het vir die spelers in die aanloop tot die wedstryd gesê dat elke voorspeler – behalwe Reinhardt Ludwig wat op sy beurt die SA o. 20-span aangevoer het – al vir Suid-Afrika in aksie was. Dit is beslis iets om op trots te wees en dit is ʼn tree in die regte rigting vir die Bulls,” het White gesê.

Akker van der Merwe duik ook vir sy drie teen Connacht. (Foto: GB Jordaan)

Die ervare afrigter wat in 2007 die Webb Ellis-trofee saam met John Smit se Springbok-span omhoog gehou het, pleit al geruime tyd dat daar meer Bokke in die Bulls-kraal moet wees.

“Die Bulls moet internasionale spelers hê wat vir Suid-Afrika speel omdat dit ʼn reusehupstoot vir die handelsmerk en die toeskouers is.”

Hy het ook Le Roux se lof besing.

Die 34-jarige Springbok-heelagter het die Bulls se bonuspuntdrie net voor rustyd gedruk en hy het met ʼn skaflike vertoning in sy eerste wedstryd vir die Pretorianers vorendag gekom.

“Dit was sy eerste kragmeting vir die Bulls, maar dit het gelyk of al geruime tyd hier speel. Hy is ʼn baie vaardige en slim speler; dit is as’t ware asof een van die afrigters op die veld is. Ek is baie bly dat hy deel van die Bulls se opset geword het.”

  • Kurt-Lee Arendse het om persoonlike redes die Connacht-wedstryd misgeloop.
  • VRK-punteleer:
  1. Glasgow Warriors: 25 punte ná ses wedstryde
  2. Leinster: 24 punte ná ses wedstryde
  3. Bulls: 20 punte ná ses wedstryde
  4. Ulster: 18 punte ná ses wedstryde
  5. Edinburgh: 18 punte ná ses wedstryde
  6. Benetton: 18 punte ná ses wedstryde
  7. Connacht: 18 punte ná ses wedstryde
  8. Munster: 18 punte ná ses wedstryde
  9. Lions: 14 punte ná ses wedstryde
  10. Cardiff: 14 punte ná ses wedstryde
  11. Stormers: 13 punte ná ses wedstryde
  12. Zebre: 11 punte ná ses wedstryde
  13. Ospreys: 10 punte ná vyf wedstryde
  14. Sharks: 7 punte ná ses wedstryde
  15. Dragons: 6 punte ná ses wedstryde
  16. Scarlets: 6 punte ná vyf wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.