SA Rugby het vandag aangekondig dat Siya Kolisi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Eben Etzebeth en Makazole Mapimpi onder die benoemdes vir Suid-Afrika se speler van die jaar is.
Die Springbokke het agt van hul 13 toetse in 2021 gewen en Kolisi het met elke toets die span op die veld gelei, terwyl Etzebeth oudergewoonte met vuur en passie gespeel het.
Dan het Mapimpi sy driedrukvermoë onderstreep, terwyl Am en De Allende heel waarskynlik die wêreld se voorste senterkombinasie is.
In die span van die jaar-kategorie sal die Springbokke sake met die Bulls en Blitsbokke uitspook om met die louere weg te stap.
Die Bulls was vanjaar haas onstuitbaar teen Suid-Afrikaanse teenstanders, terwyl die nasionale sewesspan – ondanks ’n teleurstellende Olimpiese vertoning – die een internasionale toernooi ná die ander gewen het.
Tog is JC Pretorius nie onder die benoemdes vir sewesspeler van die jaar nie; dit sal tussen Ronald Brown, Selvyn Davids en Siviwe Soyizwapi wees om die toekenning in ontvangs te neem.
Dan tel Johan Goosen, Elrigh Louw en Evan Roos onder die Curriebeker se bestes, terwyl Aphelele Fassi een van die gunstelinge in die jong speler van die jaar-kategorie is.
Mark Alexander, president van SA Rugby, het al die benoemdes gelukgewens.
“Nadat die Springbokke nie ’n enkele toets in 2020 gespeel het nie, het hulle met durf en passie in 2021 gespeel. Die span het nie net met die Britse en Ierse Leeus afgereken nie, maar ook oorsee sewe agtereenvolgende toetse teen die beste spanne ter wêreld gespeel,” het Alexander gesê.
Die Bokke het die jaar as die voorste internasionale span op Wêreldrugby se ranglys afgesluit.
- Benoemdes:
Speler van die jaar: Lukhanyo Am, Damian de Allende, Eben Etzebeth, Siya Kolisi en Makazole Mapimpi.
Jong speler van die jaar: Aphelele Fassi, Jaden Hendrikse, Jordan Hendrikse, Elrigh Louw en Evan Roos.
Span van die jaar: Bulls, Springbokke en Blitsbokke.
Afrigter van die jaar: Jacques Nienaber, Neil Powell en Jake White.
Junior Springbok van die jaar: Jordan Hendrikse, Henco van Wyk, Jan-Hendrik Wessels.
Blitsbok van die jaar: Ronald Brown, Selvyn Davids en Siviwe Soyizwapi.
Curriebekerspeler van die jaar (premierliga): Johan Goosen, Elrigh Louw en Evan Roos.
???? We saw some scorching tries this year! Check out the top 10 and vote for the #CastleTryOfTheYear
➡️ Click here: https://t.co/QyoQzXoUEQ pic.twitter.com/OXczBFhPXv— Springboks (@Springboks) December 10, 2021
Hoef nie eers te raai nie. Dit is mos logies wie met die louere gaan wegstap!