White praat oor die nuwe era wat wink by die Bulls

Wêreldbeker-afrigter Jake White (Foto: twitter.com/Perrugb via ANA)

“Dit is ’n voorreg om deel van die Bulls-opset te wees en ons wil weer een van die sterkste unies in wêreldrugby word. Ek is nog altyd dieselfde persoon; ek wíl wen.”

Só sê die Bulls se Jake White in ’n onderhoud met Rian van Heerden op JacarandaFM.

Die omstrede oudafrigter van die Springbokke het op 25 Maart die leisels by Allan Zondagh as die Pretorianers  se direkteur van rugby oorgeneem, nadat hy al onder andere in Australië, Frankryk en Japan afgerig het.

“As direkteur van rugby gaan ek nie skroom om my moue op te rol en te werk nie: Ek wil afrig. Oor die afgelope paar seisoene het die Bulls bietjie die standaarde-bal laat val en ons moet weer op die basiese dinge konsentreer,” het White gesê.

Dinge was ook nie maklik in Pretoria nie: Bul-legendes soos Fourie du Preez en Victor Matfield het uitgetree, terwyl nuwe sterre soos Handré Pollard oorsee gaan speel het.

“Ja, dit is so dat ’n rits spelers die unie verlaat het. Maar wanneer jy na ’n span soos die Crusaders kyk, is hulle steeds ’n krag waarmee daar rekening gehou moet word; selfs al verloor hulle ook ’n paar sterre. Die Bulls weet dat hulle sterk spanne kan skep, die uitdaging is dan om op daardie spanne se momentum voort te bou.”

White se aanstelling is bevestig ’n dag of wat voor die tyd van afsondering weens die Covid-19-pandemie ingestel is.

“Daar heers definitief baie onsekerheid, maar die afsonderingstydperk bied nie net vir ons as span die geleentheid om te hergroepeer nie, maar ook vir my om my voete te vind.”

Die moontlikheid bestaan dat rugbywedstryde vir die voorsienbare toekoms dalk agter geslote deure gespeel sal word, maar hy sien uit na die dag wanneer die Bulls weer op die veld wenrugby kan speel.

Hoewel daar al in die verlede berig is dat die eiewyse White met spelers soos Du Preez en Matfield vasgesit het, terwyl hy nie altyd ’n liefling op Loftus was nie, is hy van mening dat die tye verander het.

“Dinge was destyds so ’n bietjie uit verband geruk. Ek het ongelooflike respek vir Fourie en Victor as rugbyspelers en dit was definitief ’n voorreg om hul afrigter te wees.

“Daar is 2,8 miljoen geesdriftige Bulls-ondersteuners en hulle wou inderdaad die Bulle almal Bokke gemaak het. Destyds was so iets definitief nie moontlik nie en ek het spelers soos Os (du Randt), John (Smit) en Percy (Montgomery) gekies. Maar as daar een ding is wat tot die sukses van ’n afrigter bydra, dan is dit om lojaal te wees aan jou spelers.”

Volgens White sien hy uit na die uitdaging wat Pretoria bied en hy wil sorg dat talentvolle skoolspelers nie hul heil by ander unies gaan soek nie.

“Dit is ’n absolute eer om deel van die Bulls te wees en ons wil die sterkste unie word.  Ek wil soveel as moontlik skoolwedstryde bywoon, terwyl ek ook nie sal skroom om jong spelers te kies nie; juis om te verseker dat talentvolle skoolspelers eendag daarvan sal droom om vir die Bulls te speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

As ek so na White luister kry ek die gevoel van dat hy ‘n beleid wat feitlik wêreldwyd toegepas word nl ‘koop ‘n span’ ook by die Bulle van toepassing gaan maak.Ek is persoonlik nie tengunste van spelers wat van die buiteland af terugkeer na lang loopbane en dan na lang afwesigheid weer vir Suid Afrikaanse
spanne kom speel.
Ondervinding is wel belangrik maar daar het genoeg plaaslike talent oorgebly om goeie plaaslike spanne te ontwikkel.Curwin Bosch is ‘n voorbeeld, nadat die Du Preez ‘s weg is en hy genoeg kanse kry ,speel hy die beste rugby van sy loopbaan.Dieselfde kan van James Venter gesê word wat maar min speelkans by die Leeus gekry het en nou een van die uitblinkers by die Sharks is.

Die Wolf ·

Jake, Talk is cheap money buys the whisky. Bly weg van smokkel kroeg af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.