Whiteley-besering knou Lions se Superveldtog

Warren Whiteley – klaar met die Superreeks (Foto GB Jordaan)

Warren Whiteley sal nie op die veld wees vir die Lions se laaste twee groepwedstryde in die Superreeks nie en sal ook die uitspeelwedstryde misloop.

Whiteley, wat Saterdag kort voor die derde toets teen Frankryk aan die span onttrek is, het Dinsdag gehoor dat hy ʼn skeur aan sy bekken het.

Hy sal na verwagting ses tot agt weke van die veld wees en mag selfs die eerste wedstryd, selfs twee, in die Rugbykampioenskap misloop wat onderskeidelik op 19 en 26 Augustus tuis en weg teen Argentinië gespeel word.

Die Lions, wat selfs die eindstryd in die Superreeks tuis mag uitspeel mits die Hurricanes op 17 Julie tuis teen die Crusaders verloor, het benewens die Sunwolves Saterdag op Ellispark en die Sharks twee weke later op Kingspark ook drie uitspeelwedstryde as alles goed vir hulle verloop: die kwarteind oor die naweek van 21 en 22 Julie, die halfeind die week daarna en die eindstryd op 5 Augustus.

♦  Die herstel van Whiteley se besering is een saak. Die ander is wanneer hy sal kan begin oefen en wedstrydoefening sal kan inpas.

Super- en toetsrugby is net vir die fikstes bedoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.